|

Clover-aanvalle: Verrigtinge in borgaansoek uitgestel; beskuldigdes steeds in aanhouding

Die verrigtinge in die borgaansoek van Lesiba Mantsi, Ralph Shingange en Melford Rammutla, drie van die beskuldigdes wat aangekla word van onder meer die moord op Terence Tegg en JJ Cassanga tydens die Clover-staking in Februarie vanjaar, is vandag in die Tembisa Landdroshof tot 4 Augustus uitgestel.

Mantsi se regsverteenwoordiger het vandag sy kruisondervraging van kapt. Robert Seckle, die ondersoekbeampte in die saak, afgesluit waarna Shingange en Rammutla se regsverteenwoordigers beide ’n aansoek kragtens artikel 60 van die Strafproseswet gebring het. Hierdie aansoek behels dat beeldmateriaal, asook foto’s, van die voorvalle in die hof gewys word. Die verdediging het aangevoer dat dit nodig is dat die beskuldigdes en die hof die beeldmateriaal moet besigtig ten einde ’n regverdige beslissing te maak.

Die hof sal na verwagting op 4 Augustus ’n bevinding maak oor hierdie aansoek waarna die kruisondervraging van Seckle deur die ander twee beskuldigdes se regsverteenwoordigers sal begin.

Mohale Shokane en Nkosinathi Mbatha se aansoek om borg is reeds op 19 April deur landdros Karien Brits van die hand gewys. Shokane en Mbatha se verdedigingspan het ook aanvanklik ’n aansoek gebring dat die beeldmateriaal in die hof gewys word, maar hierdie aansoek ná konsultasie met hul kliënte teruggetrek.

Soortgelyke plasings