|

Man skuldig bevind ná “brutale aanval” op 80-jarige vrou

Dylan Ferreira is gister in die Booysens-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer vir sy “brutale” aanval op Lucille Oosthuysen. Hierdie skuldigbevinding is ’n duidelike bewys van hoe samewerking tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot geregtigheid kan lei.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die 80-jarige Lucille en haar man, Will, in hierdie saak. Dié eenheid het die egpaar gehelp om voor te berei om te getuig en hulle deurentyd gehelp deur die moeilike hofsaak. Daar is ook oudiovisuele toerusting aan die NVG verskaf, wat die aanklaer in staat gestel het om beeldmateriaal in die hof as getuienis  voor te lê. Hierdie beeldmateriaal wat Ferreira se aanval op die bejaarde vrou wys, was deurslaggewend in sy skuldigbevinding.

Die aanranding het op 5 Augustus 2023 in Mayfield, in die suide van Johannesburg, plaasgevind. Daar was ’n dispuut oor ’n stel spaarsleutels vir ’n eiendom wat Ferreira en sy verloofde Kay-Leigh Pelser by die Oosthuysen-egpaar gehuur het. Die argument het daartoe gelei dat Ferreira Oosthuysen gewelddadig gestamp het dat sy op die plaveisel beland het. In die hof het hy getuig dat hy opgetree het in selfverdediging.

Ferreira, ’n verkoopsbestuurder by ’n BMW-handelaar in Johannesburg, se houding het verander toe landdros Nicola Olivier haar sterk uitspraak gelewer het. “Dit is vir die hof duidelik dat die aanval op die klaer nie uitgelok was nie,” het Olivier gesê.

“Die aanval op die klaer was brutaal en ontstellend om die minste te sê. Die klaagster, wat toe 79-jaar oud was, is ’n brose, bejaarde dame wat stilgestaan het en deur ’n 28-jarige man van balans af gestamp is en hulpeloos op die plaveisel  gelaat is. Die beskuldigde se gedrag was ongevraagd en verdoemend. Sy verweer is ongegrond en ek vind dit moeilik om die verweer te vereenselwig met die oortreding waaraan hy skuldig bevind is. t.

“Ek wil hê jy moet een ding goed verstaan, en dit is hier waar ek ’n oomblik wil stilstaan om die volgende te bevind . Getuienis jok nooit, maar mense doen,” het Olivier afgesluit.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê hy is tevrede met die hof se uitspraak. “’n Boelie het gekry wat hy verdien. Hierdie is die gevolg  van wat bereik kan word met die samewerking van ons kantoor en die  Nasionale Vervolgingsgesag. Ons het in hierdie saak betrokke geraak omdat die NVG weer eens ’n slagoffer in die steek gelaat het. i Die latere aanstelling van ’n briljante jong aanklaer en  ’n sterk bekwame landdros tesame met  ons betrokkenheid het verseker dat geregtigheid geskied. Ons spreek ons dank uit teenoor aanklaer Lungile Mazibane en ons respek teenoor landdros Nicola Olivier. Ons sal betrokke bly deur die vonnisproses.”

Die saak is uitgestel to 5 Junie 2024 vir die vonnisoplegging.

Soortgelyke plasings