| |

Vroue van AfriForum se Overstrand-tak pak hul eie veiligheid kaalhand aan

AfriForum se Overstrand-tak het die afgelope naweek ’n selfverdedigingsklas in samewerking met PROactive Fitness aangebied. Nagenoeg dertig vroue het dié klas op 26 Augustus bygewoon. ’n Kanadese instrukteur het die vroue geleer hoe om hulself in die geval van ’n gewelddadige aanval suksesvol te verdedig.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het vroue in dié klas noodsaaklike vaardighede aangeleer en deur middel van die praktiese sessies ook hul kennis toegepas. “’n Misdadiger wat in die toekoms paaie met een van dié vroue kruis, gaan beslis sy rieme styf loop,” het Benade beklemtoon.

Intussen het vier AfriForum-buurtwaglede van dié tak ook onlangs verdere noodhulpopleiding ontvang. Hulle sal binnekort toegerus word met die nodige mediese toerusting om sodoende as vlak 3-noodhulplede ondersteuning tydens buurtwagoperasies te kan bied.

Benade het op sy beurt die Overstrand-taklede geprys vir hul bereidwilligheid om ’n verskil in die gemeenskap te maak en die publiek aangemoedig om by die tak en die Alfa-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings