| |

Nelspruit-tak: Só pak AfriForum-tak watertekorte én misdaad

Twee brandende kwessies vir inwoners van Mbombela is gedurende Oktober, danksy AfriForum se Nelspruit-tak, getakel.

Nuwe noodwaterpunt opgerig

Watertekorte in dié Laeveldse stad veroorsaak van tyd tot tyd dat krane leegloop – ’n probleem wat volgens die Mbombela-munisipaliteit grootliks weens onwettige waterkonneksies veroorsaak word. AfriForum se Nelspruit-tak het daarom in Oktober ’n noodwaterpunt by die Nelspruit Nederduitse Hervormde Kerk (NHK) in Belladonnastraat opgerig.  

“Die noodwaterpunt is beskikbaar vir enige individue of gesinne wat dringend water benodig. Toegang tot water is ’n basiese mensereg wat nie van enige inwoner van ons gemeenskap ontneem mag word nie en daarom is hierdie noodwaterpunt so ’n noodsaaklike projek vir die Nelspruit-tak gewees,” verduidelik Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “Ons moedig egter die gemeenskap aan die erns van die huidige waterkrisis ter harte te neem en daarom verantwoordelik met hierdie waardevolle hulpbron te werk te gaan.”

Van Heerden het die Nelspruit NHK geloof vir hul betrokkenheid by die projek. “Hierdie noodwaterpunt is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer ons as gemeenskap saamstaan en saamwerk,” voeg hy by.

Nommerplaat-tegnologie ingespan om misdaad te bekamp

In nóg ’n gemeenskapsgefokusde projek het die Nelspruit-tak op 26 Oktober ’n tegnologies gevorderde nommerplaatherkenningskamera (bekend as ’n LPR-kamera) op Dr. Enos Mabuza-rylaan opgerig. Dié kamera neem en digitiseer voertuie se nommerplate en is ’n onmisbare hulpmiddel in die bekamping van misdaad en derhalwe die beskerming van die gemeenskap.

Hierdie inisiatief vorm deel van die AfriForum Nelspruit-buurtwag se toegewyde fokus op die verbetering van veiligheid in dié gemeenskap en sal boonop aan inwoners meer gemoedsrus oor hul veiligheid gee.

Volgens Van Heerden is die kamera toegerus met gevorderde tegnologie wat nommerplate in ’n oogwink herken en met ’n databasis van verdagte voertuie vergelyk. Dit bied uitsonderlike inligting wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal help om voertuie wat by misdaad betrek is, te identifiseer en op te spoor.

“AfriForum se Nelspruit-buurtwag glo aan die mobilisering van gemeenskappe om die veiligheid van ons strate én inwoners te verseker. Ons doel is om ’n omgewing te skep waarin daar geen veilige hawe vir misdaad is nie,” verduidelik Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-buurtwag. “Ons moedig ook die gemeenskap aan om enige verdagte aktiwiteite op Dr. Enos Mabuza-rylaan onmiddellik aan die plaaslike polisie te rapporteer.”

Die Nelspruit-tak en -buurtwag nooi die gemeenskap uit om in te skakel by dié tak en buurtwag.

Soortgelyke plasings