|

Mbalula swyg oor verlore en gesteelde wapens in polisiebesit

Fikile Mbalula, minister van polisie, se weiering om te sê hoeveel wapens in totaal in polisiebesit die afgelope paar jaar verloor of gesteel is, kom neer op ’n erkenning van ernstige nalatigheid binne die SAPD.

Mbalula het nadat AfriForum in Mei vanjaar ’n PAIA-aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring het, erken dat daar tussen 2009 en 2014 byna 8 000 polisiewapens verloor of gesteel is en dat ondersoeke daarop dui dat dit in ernstige geweldsmisdaad gebruik is.

Die minister wou egter nie syfers bekendmaak oor hoeveel wapens wat die publiek ingedien het om vernietig te word of wapens wat hulle in veilige bewaring as bewysstukke moet hou, weg of gesteel is nie.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, meen dit is in openbare belang dat bekendgemaak word hoeveel wapens volgens die polisiebateregister én die sentrale vuurwapenregister verloor of gesteel is. AfriForum het die polisie versoek om beide die syfers bekend te maak. Net die polisiebateregistersyfers is bekendgemaak.

Die feit dat die ander syfers nié bekendgemaak word nie, skep persepsies by die publiek dat daar sonder twyfel korrupsie of onderduimsheid binne die polisie aan die orde van die dag is.

Die publiek vra hulself af hoeveel wapens deur die polisie self in misdaad gebruik word en hoeveel wapens dalk vir misdaaddoeleindes verkoop of uitgehuur word. Die publiek sien selde waar en hoe die polisie ingehandigde wapens vernietig.

Hein Gonzales, bestuurder: risiko en ondersteuning in gemeenskaspveiligheid, het gesê AfriForum gaan die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod) versoek om ondersoek in te stel na die polisie se nalatige hantering van vuurwapens.

AfriForum konsulteer ook tans met sy regspan oor verdere stappe om die polisie te dwing om die syfers bekend te maak wat hulle tans weerhou. “Meer as 18 000 mense is vanjaar reeds in die land vermoor. Dit is tyd dat die regering dringend ingryp en die minister sy verantwoordelikheid begin nakom om die burgers van die land te beskerm. As mens dink hoeveel van die polisie se gesteelde of verlore wapens gebruik is in die dood van dié 18 000 mense, is dit verskriklik,” meen Cameron.

Mbalula het onlangs gesê hy is die “new sheriff in town”. “Hy is duidelik nie in beheer nie en het nie ’n benul hoe om geweldsmisdaad hok te slaan nie.”

 

Soortgelyke plasings