|

Media24 se bevestiging van oorweging om Afrikaanse koerante te staak, is ’n reuseterugslag – AfriForum

Nuus wat vandag bevestig dat Media24 oorweeg om aan die einde van September vanjaar vyf koerante te sluit en moontlik 400 personeel af te lê, is ’n reuseterugslag vir gehaltejoernalistiek in die land en veral vir Afrikaanse media, benadruk AfriForum.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, dui die reaksie op die petisies wat AfriForum verlede week vir die behoud van Beeld en Rapport van stapel gestuur het, hoe sterk lesers oor die toekoms van dié koerante voel. Indien die sluitings deurgevoer word, versaak Media24 die Afrikaanse gemeenskap en die titels van publikasies wat deel van die fondament is waarop dié sakereus gebou is. “Verder is dit tragies dat lojale personeel in ’n hierdie moeilike ekonomiese tye aflegging in die gesig staar,” beklemtoon Bailey.

“Ten spyte van dalende verkope, het gedrukte media beslis nog ’n plek, veral in ’n land soos Suid-Afrika waar data duur is en tegnologie nie vir almal beskikbaar is nie. Meer nog, indien hierdie koerante se papieruitgawes verdwyn, sal dit ’n gevoelige slag vir Afrikaans wees. Die Afrikaanse media het ’n lang en trotse geskiedenis waarop voortgebou moet word, eerder as om dit te verskraal.”

Bailey het op die nadele van elektroniese media gewys: “Dit kan maklik aan sensuur deur owerhede, aanslae van kuberkrakers en misbruik deur misdadigers onderwerp word. Daarenteen is gedrukte media baie meer langslewend, risikobestand en bewarenswaardig. Elektroniese media lei lesers hoofsaaklik net na die berigte van onderwerpe waarna hulle soek, terwyl gedrukte media lesers aan ’n veel groter nuuswêreld blootstel en so hulle denke en kennis verruim. Die voortbestaan van Afrikaanse gedrukte media is ’n noodsaak, nie ’n luukse nie,” meen sy.

Die publiek kan hul name op AfriForum se petisie vir die behoud van die gedrukte weergawes en die titels van Beeld en Rapport voeg by www.redrapport.co.za.

Soortgelyke plasings