Meer as R85 miljoen se bedrog in Bethlehem; AfriForum nader Valke


Die AfriForum-tak in Bethlehem het vandag vier strafregtelike klagtes van munisipale bedrog ten bedrae van R85 miljoen by die plaaslike Valke-eenheid ingedien.
Dít spruit onder meer uit verskeie ondersoeke wat deur AfriForum geloods is, asook dokumente wat aan die burgerregte-organisasie oorhandig is. Die klagtes sluit bewyse van die uitbetaling van onreëlmatige fakture in wat bedrae bevat het wat baie meer was as die dienste wat gelewer is.

“Die ondersoeke het onder meer aangedui dat tenders onwettig aan kontrakteurs – wat nie daarvoor kwalifiseer nie – toegeken is sonder om vasgestelde tenderprosesse te volg. Daar is verder talle uitbetalings aan onreëlmatige fakture gemaak,” sê Isoldé Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak.
“Ons hoop dat skuldige partye aan die pen sal ry en geregtigheid sal geskied. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat belastingbetalers se geld verantwoordelik en reëlmatig spandeer word, en dat moontlike strafregtelike aktiwiteite onder die loep geneem word. AfriForum doen ’n beroep op fluitjieblasers om na vore te kom om korrupsie te ontbloot,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Soortgelyke plasings