|

Minister se opmerkings oor hidrobreking is misleidend en kommerwekkend

Verlede week is daar berig dat die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, aangekondig het dat die regering voorstelle sal aanvra om skaliegas in die Karoo te ondersoek, en dat “our transition is going to be sustainable if we access oil and gas on our shores.”

Die minister se opmerkings is om verskeie redes misleidend en problematies. “Die gebruik van gas as ’n brandstofalternatief na ’n laekoolstof-toekoms was ’n bemarkingsfoefie deur die olie- en gasbedryf wat uiteindelik die grootskaalse aanvaarding van hernubare energie vertraag. Alhoewel daar ’n definitiewe, hoewel beperkte, rol vir gas tydens die oorgangstydperk is, moet ons die ontginning en verbruik van fossielbrandstowwe verminder as ons ernstig is oor klimaatsverandering en ons internasionale verpligtinge. Bestaande produktiewe gasvelde kan dus potensieel ’n rol speel. Die ondersoek na en ontwikkeling van nuwe en bykomende olie- en gasreserwes is direk teenstrydig met hierdie werklikheid en stel die waarskynlike scenario van katastrofiese klimaatsverandering, en/of gestrande bates in die toekoms in gevaar,” sê Jonathan Deal, van die Treasure Karoo Action Group (TKAG).

“Onkonvensionele aanlandige gasontginning – soos skaliegas wat deur hidrobreking ontgin word – is nie net ’n heelwat meer uitgebreide, riskante, duur en hulpbronintensiewe onderneming in vergelyking met konvensionele gasontginning nie, maar die negatiewe impak daarvan sal deur die plaaslike gemeenskappe gedra moet word – waarvan die meeste geheel en al staatmaak op grondwater. Suid-Afrika word nie net as ‘n waterskaars land beskou nie, maar ook ‘n klimaatsverandering-brandpunt,” het Deal gesê.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake het gesê dat AfriForum en TKAG sal voortgaan met hul teenkanting teen skaliegasontginning in Suid-Afrika. “Ná tien jaar sal hierdie ’n naelbytstryd wees en dit berus op plaaslike gemeenskappe om saam te staan teen hierdie groot risiko nes hulle het met die e-Toll-sage. Hierdie regering het bewys dat hy nie in staat is om selfs daaglikse dienste te bestuur nie, maar nou wil hulle ’n ingewikkelde en gevaarlike tegnologie wat deur winsmakers bestuur word aanpak.”

“Verder is die minister se opmerkings gemaak terwyl kritiese navorsing, inligting, wetgewende ontwikkelings en grondwerk nog uitstaande is oor verskeie sake, insluitend die ontvangsomgewing in die Karoo. Die Departement van Water en Sanitasie, sowel as die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing het die afgelope jaar konsepregulasies rondom die omgewingsbestuur van aanlandige olie- en gasaktiwiteite vrygestel. Hierdie word nog verwerk. Geen basislynstudies is voltooi nie, en daar is ook nie bykomende kapasiteit vir monitering en afdwinging ingestel nie, of leemtes in huidige kennis is aangespreek nadat dit uitgewys is deur, onder meer wetenskaplike studies soos die Strategiese Omgewingsevaluering (SOE) nie,” het Deal voortgegaan.

“Tot op hede is daar geen akkurate skatting beskikbaar vir die grootte van die potensiële reserwe in die Karoo-kom nie en dit is algemeen dat reserweskattings uiteindelik ’n fraksie van die aanvanklike geëisde bedrae blyk te wees. Sodra eksplorasie begin en gas teëgekom word, is dit hoogs onwaarskynlik dat die regering die proses sal stop oor omgewingskwessies. Die minister en die nasionale regering staan ​​op die punt van ’n onomkeerbare besluit. Sodra hierdie proses begin, sal dit byna onmoontlik wees om die skade ongedaan te maak of die daaropvolgende geskarrel vir fossielbrandstowwe op ons land te beheer. Dit is eenvoudig nie die risiko werd nie,” het Deal afgesluit.

Soortgelyke plasings