|

Gevalle soldate met rooi papawers by AfriForum gedenk

Lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan het vandag met rooi papawerwapentjies gesneuwelde soldate herdenk. Dié tradisie het sy ontstaan tydens die Eerste Wêreldoorlog toe daar om 11:00 op 11 November 1918 op ’n wapenstilstand ooreengekom is.

Op 11 November word daar reg oor die wêreld seremonies en parades gehou om die wapenstilstand van dié oorlog te herdenk. Die rooi papawerblom word as simbool by hierdie geleenthede gebruik om die gesneuwelde soldate te onthou en aan hulle eer te bring.

Volgens Wikipedia het 121 offisiere en 3 032 manskappe van die Eerste Suid-Afrikaanse Infanteriebrigade op 14 Julie 1916 in ‘n hewige geveg gewikkel geraak as deel van die Slag van die Somme. Ses dae later, op 20 Julie is die brigade te hulp gesnel, maar dit was reeds te laat. Slegs 29 offisiere en 751 manskappe het die Slag van Delvillebos oorleef, en van die bos het net ‘n enkele booghoutboom na die slag staande gebly. Die Eerste Wêreldoorlog was van 1914 – 1918.

“Ons by gemeenskapsveiligheid herdenk soos miljoene ander mense 11 November om die soldate wat gesneuwel het te eer,” sê Raymond Hohls, operasionele bestuurder by AfriForum se Gemeenskapsveiligheid.

Alhoewel die Eerste Wêreldoorlog eers amptelik op 28 Junie 1919 met die Verdrag van Versailles beëindig is, is die skietstilstand op 11 November 1918 in ’n treinwa naby Compiègne, Frankryk, onderhandel. Dit het om 11:00 daardie dag in werking getree.

In Kaapstad word die kanon op Seinheuwel reeds sedert 1806 afgevuur toe die Britte die Kaap by die Nederlanders oorgeneem het. Die destydse burgermeester Harry Hands het egter op 14 Mei 1918 gevra dat daar daagliks drie minute se stilte ná die afvuur van die kanon moet wees om die gevalle soldate van die oorlog te onthou. Dis later na twee minute verander en is daagliks tot op 18 Desember van daardie jaar gedoen.

Die Britse Koning het ook later van die idee gehoor en dit ’n instelling reg oor die destydse Britse Ryk gemaak. Vlaandere in België met sy velde vol papawers is die oorsprong van die blommetjies wat vandag nog gedra word.

Soortgelyke plasings