|

Teleurstelling oor nog ’n vertraging in die doodsondersoek ná dood van Nengwane in polisie-aanhouding

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is diep teleurgesteld nadat die geregtelike doodsondersoek van Solomon (Solly) Nengwane weer uitgestel is. Die saak is vandag in die Brits-landdroshof tot 16 Januarie volgende jaar uitgestel weens klaarblyklike versuim deur die kantoor van die staatsprokureur om die ooreengekome finansiële bystand aan die persone van belang te verskaf.

Nengwane is op 6 Junie 2006 in polisie-aanhouding dood. Die sewe persone van belang is almal lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en sluit in die voormalige Noordwes-polisiekommissaris, Generaal-majoor Jan Ntebo Mabula. Hul prokureur het aan die hof gesê ondanks verpligtinge van die kantoor van die staatsprokureur om die regskoste te betaal, was dié betalings sporadies, wat kommer oor toekomstige finansiële verpligtinge laat ontstaan het. Hy het hom daartoe verbind om die kantoor te betrek om finaliteit te kry en in Januarie aan die hof terug te rapporteer.

Maar die hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, adv. Gerrie Nel, wat die familie van die oorledene verteenwoordig, en die aanklaer, het die hof vir ’n datum in November gevra waarteen die persone van belang hul huis in orde moet hê. Nel het aangevoer dat ’n uitstel tot volgende jaar eenvoudig onaanvaarbaar is. “Wat vir die hof vertel word, is dat niemand weet wanneer hierdie saak sal voortgaan nie. Ons kan in Januarie terugkom, en weer is daar onsekerheid van die kantoor van die staatsprokureur. En ons sal in dieselfde posisie wees.”

“Die familie wag sedert 2006 vir antwoorde. Sulke vertraging is ’n mislukking van die strafregstelsel, en nou ook ’n mislukking van die kantoor van die staatsprokureur,” het Nel gesê.

Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie onredelik sou wees dat die hof die saak vir ’n maand uitstel vir die persone van belang om hul huis in orde te kry nie en ’n voorlopige datum vas te stel waarop die geregtelike doodsondersoek moet begin nie.

Die landdros, met verwysing na die Grondwet, het beveel dat die saak vir ’n verdere drie maande oorstaan. Die gebrek aan dringendheid in die howe is ’n las wat die swaarste op die skouers van die families van geliefdes weeg wat dikwels tevergeefs, na geregtigheid smag.

Die privaatvervolgingseenheid is hoopvol dat die persone van belang hul befondsingskwessie teen Januarie sal uitsorteer sodat ’n datum vasgestel kan word vir hierdie geregtelike doodsondersoek om voort te gaan.

Nengwane se familie het die AfriForum se privaatvervolgingseenheid om bystand genader omdat niemand ná 17 jaar vir sy dood verantwoordelik gehou is nie. Nengwane was een van vyf mense wat in 2006 in hegtenis geneem en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollars – en dwelms – by ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die sewe mense van belang in die geregtelike ondersoek was deel van die taakspan wat die saak ondersoek het. Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en volgens mediaberigte het verskeie getuies in die saak onder verdagte omstandighede verdwyn.

Nengwane is op 6 Junie 2006 dood nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die amptelike weergawe is dat die polisie Nengwane na die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal geneem het en dat hy reeds dood is toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal agtergelaat.

Soortgelyke plasings