Misdaadvlaag tref Kaap

David Olivier

AfriForum se veiligheidstrukture merk sedert April 2023 ’n geweldige toename in geweldsmisdaad op. Die volgehoue verslegting van die sosio-ekonomiese en maatskaplike omstandighede in die land, wat deur korrupsie en wanbestuur gedryf word, het gelei tot ’n spiraaleffek wat deur verskeie stressors soos beurtkrag versnel word. Ons land se ekonomie verswak by die dag, en landsburgers en gemeenskappe vind dit finansieel al hoe moeiliker om self hul veiligheidsuitdagings te takel.

Gemeenskapsgedrewe inisiatiewe sal op ’n bepaalde tyd in die toekoms ’n kritieke rol speel in die beveiliging van gemeenskappe teen hierdie tipe bedreigings. Statutêre instellings verloor hul greep op veiligheid, en namate korrupsie, wanbesteding en ’n kultuur van swak bestuur algemener raak, sal gemeenskapsgedrewe inisiatiewe ’n steeds groter rol speel om ons gemeenskappe te bestuur en te beveilig. Gemeenskappe sal egter genoodsaak wees om goed georganiseerd te wees.

Volgens AfriForum se rekordhouding ten opsigte van plaasaanvalle en -moorde in die Wes-Kaap het daar 9 plaasaanvalle, waartydens daar twee moorde gepleeg is, plaasgevind van 1 April 2023 tot 22 Junie 2023. In 2022 het daar altesaam 17 plaasaanvalle plaasgevind, waartydens daar twee moorde gepleeg is. Van 2019 tot 2022 was daar gedurende die eerste kwartaal van hierdie jare 22 plaasaanvalle, en in dieselfde tydperk in 2023 het daar reeds nege plaasaanvalle plaasgevind. Hierdie aanvalle is weerspieël in die stigting van ’n rekordgetal van sewe nuwe veiligheidstrukture in slegs vyf weke in die Wes-Kaap.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se misdaadstatistieke is 6 289 moorde in die eerste drie maande van die jaar gepleeg. Vergeleke met dieselfde tydperk in 2022, toe daar 6 083 moorde gepleeg is, was daar ’n toename van 3,4%. Wanneer hierdie selfde tydperk van die vorige twee jare beskou word, sien ons dat die nasionale moordsyfer van 2020 tot 2021 toegeneem het met 8,4% en van 2021 tot 2022 toegeneem het met 22,3%. Die groot vraag is egter hoe die moordsyfers vir April tot Junie 2023 met dié van die vorige drie jare sal vergelyk.

Terwyl Bheki Cele, minister van polisie, baie ingenome is met die toename van sigbare polisiëring en ontwrigtingsoperasies, is dit myns insiens dalk te laat. Dit is onrusbarend wanneer ’n mens dink wat die volgende statistieke gaan oplewer. Volgens die moordstatistieke vir die eerste kwartaal het die Wes-Kaap die derde hoogste moordsyfer per kapita van al nege provinsies. Op voetsoolvlak rapporteer buurtwagte in die provinsie ’n beduidende toename in misdaad oor die algemeen, en die verwagting is dat misdaad in die tweede kwartaal beduidend gaan toeneem. Dit is algemene kennis dat die Wes-Kaap in feitlik alle opsigte beter as die ander provinsies vaar, wat aanleiding gee tot ’n suidwaartse migrasie van mense wat na beter lewensomstandighede op soek is. Die Wes-Kaap het ook 90% van die ongeveer 200 000 werksgeleenthede wat ná die inkrimping weens Covid-19 geskep is. Daar bestaan egter kommer of Cele hierdie sigbare polisiëring sal kan volhou in die lig van uitdagings soos befondsing en mannekrag wat die SAPD tans in die gesig staar.

Al die skuld kan egter nie voor die minister se deur gelê word nie. Ons as landsburgers het ’n verpligting om verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid te neem – en in baie gevalle heers daar ’n houding van ongeërgdheid en apatie.

Die enigste antwoord op dié uitdagings is om ’n federalistiese benadering te aanvaar en ons te beywer vir die afwenteling van mag van nasionale vlak tot provinsiale vlak. So ’n afwenteling van mag sal tot gevolg hê dat provinsiale regerings groter seggenskap in die begroting vir en die opleiding, aanwending, toewysing en ontplooiing van ons SAPD sal hê.

Die uitdagings wat ons in die oë staar, gaan nie hulself oplos nie. Dit is tyd dat ons as Wes-Kapenaars by die oplossing van hierdie probleme betrokke raak. Die bekende gesegde van Einstein is nog net so toepaslik: Die definisie van waansin is om dieselfde ding oor en oor te doen, maar verskillende uitkomste te verwag.

Soortgelyke plasings