|

AfriForum se veiligheidstrukture van die Wes- en Oos-Kaap hou massapatrollie

AfriForum se veiligheidstrukture in die Wes- en Oos-Kaap het op 14 en 15 Julie in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s), private sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers ’n massapatrollie in hul onderskeie areas uitgevoer om sodoende sigbare polisiëring te verhoog.

Die aksie het omstreeks 16:00 Vrydagmiddag begin en tot 06:00 Saterdagoggend geduur. In totaal het 962 patrolleerders van AfriForum en 275 patrolleerders van ander veiligheidsinstansies aan die patrollie deelgeneem. Ongeveer 541 voertuie het sowat 14 494 km afgelê. Verskeie voertuigbeheerpunte is saam met die SAPD beman en 36 insidente is hanteer. Dié insidente strek van persone wat in besit van dwelms, toerusting vir huisbraak en onwettige wapens aangekeer is tot persone wat onder die invloed van drank besuur het. Verskeie boetes is ook deur statutêre amptenare uitgereik.

“Hierdie inisiatief het ten doel om sigbaarheid op te skerp en veiligheid te verbeter aangesien ’n misdaadvlaag dié streek die laaste tyd teister. AfriForum se buurtwagte van die Suidstreek sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidspesialis vir die Suidstreek.

Soortgelyke plasings