|

Mooi, mooier, Mooirivier! AfriForum-tak pak Mooirivier-skoonmaakprojek

’n Groenstrook langs een van die bekendste bakens in Potchefstroom is die afgelope naweek deur AfriForum se Potchefstroom-tak skoongemaak. Nou kan dié baken weer sy naam gestand doen, want die “mooi” is weer terug in dié strook langs die dorp se geliefde Mooirivier.

Die strook, aangrensend tot die KFC, het in die afgelope tyd ’n skuilplek van sluipslapers geword. Die Potchefstroom-tak het egter in samewerking met Green Living Space-tuindiens die gebied hier opgeruim, plantegroei uit die rivier verwyder en die rivieroewer met bossiekappers en ’n kettingsaag skoongemaak.

Die werk is nog lank nie voltooi nie en skoonmaakwerk sal aanstaande naweek voortgesit word wanneer bome gesnoei en ’n verdere deel van die rivier opgeruim sal word. Volgens Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir die Mooirivier-streek, doen die opruimingspan ook moeite om indringerplantspesies, soos die driedoringsoetpeul, wat veral op die rivieroewer voorkom, te verwyder.

“Hierdie noodsaaklike opruimingswerk maak ’n reuseverskil tot voordeel van die omgewing en die bevordering van veiligheid in dié gebied,” benadruk Pretorius. “Elke taklid wat ’n deel doen om hierdie strook weer aanloklik te maak, die KFC wat aan die werkers kos voorsien en Green Living Space wat hul hande en kennis aanbied – elkeen van hierdie betrokke partye help om die Mooirivier weer mooi te maak!”

Soortgelyke plasings