|

Slaggate: AfriForum-tak pak Bethal se “buffel” by die horings

Soortgelyk aan die ware Jakob, was Buffelstraat in Bethal tot onlangs toe ’n gevaarlike stuk pad met tientalle slaggate. Danksy AfriForum se Bethal-tak is die slaggate op nagenoeg 200 m van dié pad, vanaf Davelstraat tot by Koedoestraat, op 5 Oktober deur middel van ’n omvattende slaggatprojek herstel. ’n Totaal van 250 sakke teer is gebruik in dié projek waarvan die koste nagenoeg R17 000 beloop.

Volgens Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak is Buffel-, Gemsbok- en Waterbokstraat hierdie gebied se drie belangrikste toegangsroetes na Bethal se middedorp. Gemsbok- en Waterbokstraat het egter reeds sodanig verval dat dit nie kostedoeltreffend sou wees om dit te herstel nie. Die tak het daarom besluit om hul herstelwerk op Buffelstraat toe te spits sodat motoriste steeds ’n gangbare roete het waarlangs die middedorp bereik kan word.

“AfriForum se Bethal-tak sal aanhou veg teen die dorp se verval en ons moedig die gemeenskap aan om met ons hande te vat, want almal se insae is nodig om dié stryd te wen,” verduidelik Human.

Inwoners word versoek om AfriForum se Bethal-tak te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings