|

Nuwe takbestuur gereed om veiligheid in die Strand te takel

Die nuwe takbestuur van AfriForum se Strand-tak is pas aangewys en dié span is reeds gereed om veral veiligheid in dié gemeenskap te pak. Die tak beoog om kwessies soos samewerking met plaaslike owerhede sowel as ander rolspelers op te skerp en self ook moue op te rol om uitdagings wat dié gemeenskap raak, te takel.

Kiara Brown is aangewys as nuwe takvoorsitter, Lee-Ann Strydom as ondervoorsitter en bestuurslid verantwoordelik vir takprojekte en Chevon Butler as sekretaresse. Hugo de Bruyn is verkies tot penningmeester, terwyl Ella Sophia Pienaar verantwoordelikheid vir plaaslikeregeringsake sal neem en Christiaan Loots en Rudi Groenewald in onderskeidelik die portefeuljes van omgewingsake en gemeenskapsveiligheid die leisels sal neem.

“Dis altyd lekker om te sien hoe lede van die gemeenskap bereid is om hul tyd en energie te gee om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Ons is dankbaar vir die vorige bestuur se harde werk en alles wat hulle bereik het en sien daarna uit om die uitdagings wat die Strand-gemeenskap ondervind, saam met die nuwe bestuur aan te pak,” verduidelik Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Wil jy ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap maak en aktief betrokke raak by projekte wat tot voordeel van die omgewing, jou buurt se veiligheid of tot die bevordering van munisipale aangeleenthede sal wees? Dan is AfriForum se Strand-tak die antwoord. Kontak die taksekretaresse, Chevon Butler, direk by strand@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings