|

Mooinooi-tak plant bome by skool en maak dorp skoon

Die AfriForum-tak in Mooinooi het op 17 September dié burgerregteorganisasie se boomplantmaand by die Laerskool Elandskraal afgeskop waar agt bome – waaronder vier essenhoutbome, twee wilde pruimbome en twee Henkel-se-geelhoutbome – langs die rugbyveld geplant is. Daarna het die tak deur die dorp se strate geloop en rommel opgetel.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om in die langtermyn tot voordeel van almal te floreer. Dit is die hoop wat ons los vir ons nageslag en die gedagte dat ons nou al aan hulle dink,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

“Bome is belangrik want dit verskaf skaduwee, vervaardig suurstof en dit maak die grond skoon. Bome is ook die tuiste van verskeie fauna en flora, dit demp lawaai en beheer stormwater. Om hierdie redes motiveer ons elke persoon om deel te word van hierdie belangrike maand.”

Die gemeenskap het ook saamgetrek en verskeie rolspelers het ingespring om die dorp te verbeter deur om slaggate op te vul en die strate skoon te maak. Ongeveer 1,5 ton teer is gebruik om die slaggate te vul. Die volgende mense was betrokke:  Only Reality; De Vries-tuindienste; Merrimac Water Bar; Magalies Oos Radio Groep; Martin-tuindienste; Total; Interwaste; en Mooinooi-gemeenskapslede.

“Die feit dat ons gemeenskappe begin saamtrek, wys dat geen inwoner sal terugstaan om te kyk hoe Suid-Afrika verval nie. AfriForum sal aanhou om die gemeenskap te dien,” sluit Viljoen af.

Word vandag deel van die oplossing en sluit aan by AfriForum se Mooinooi-tak: SMS “Mooinooi” na 45344 (R1) of skakel vir Alie Chamberlain by 078 874 3973.

Soortgelyke plasings