| |

Plant vandag en pluk môre: AfriForum se Hessekwa-tak plant vrugtebome by drie plaaslike skole

Drie skole in die Hessequa Plaaslike Munisipaliteit gaan binne die volgende paar jaar letterlik die vrugte van hul leerders se arbeid kan pluk wanneer die vrugtebome wat verlede week hier saam met AfriForum se Hessekwa-tak geplant is, begin appels, vye en appelkose dra. Dié boomplantaksie vorm deel van AfriForum se jaarlikse Boomplantmaand-projek wat gedurende September op ’n nasionale basis aangepak word.

Die Hessekwa-tak het op 7 September appelkoos-, appel- en vyebome by Vondeling NAK Primêre Skool buite Witsand, De Waalville Primêre Skool op Heidelberg en Small Dreams Special Needs Educational Daycare Centre in Riversdal geplant. Die bome is deur Khanyo Mwandla, senior bosbou-ontwikkelingsbeampte gestasioneer in die Knysna-kantoor, vir dié projek geskenk.

“Die kinders is met hierdie boomplantaksie op ’n praktiese manier geleer om vir hul toekoms te beplan,” sê Vivian Louwrens, voorsitter van AfriForum se Hessekwa-tak. “Net soos dié bome in die toekoms gaan vrugte dra vir almal, kan ons aksies nou ook ons en ons gemeenskap se toekoms beïnvloed. Op hierdie wyse leer ons die kinders om vir hul toekoms te beplan en dit hul eie te maak.”

Die tak het voorkeur gegee aan vrugtebome omdat dit vir baie jare ’n tasbare verskil in die skoolkinders se lewe gaan maak. Die kinders het gehelp om die bome te plant en het sodoende ook eienaarskap van hul omgewing geneem.

Ben Dell, ondervoorsitter van die Hessekwa-tak, het aan die kinders verduidelik dat dit belangrik is om die gemeenskap te ondersteun. “’n Stygende gety lig alle bote en net soos elke skoolkind kan baat by hierdie vrugtebome, kan die gemeenskappe op Heidelberg, Witsand en Riversdal baat by AfriForum se gemeenskapsgedrewe inisiatiewe,” verduidelik Dell.

Met die oog op die stigting van ’n plaaslike buurt- en plaaswag gaan AfriForum se Hessekwa-tak op 30 September ’n ope dag op Heidelberg hou. Sprekers sal meer vertel oor AfriForum as ’n burgerregteorganisasie en die belang van gemeenskapsveiligheid.

Kontak Vivian Louwrens by 082 572 7472 of stuur ’n e-pos na hessekwa@afriforumtak.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings