|

AfriForum-buurtwagte stel gemeenskap gerus oor hul veiligheid in verkiesingstyd

AfriForum se buurtwagte in Nylstroom en Naboomspruit het ’n inligtingsessie vir gemeenskapslede aangebied oor hul veiligheid voor, tydens en ná die verkiesing. Verskeie scenario’s en wenke is onder meer tydens hierdie sessie bespreek.

Hierdie sessie is aangebied aangesien daar groot onsekerheid is oor wat tydens die verkiesing gaan gebeur en hoe verskillende groepe daarop gaan reageer. Die sessie het gepoog om soveel as moontlik bekommernisse te bespreek en hopelik die gemeenskap gerus te stel.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek, het die sessie aangebied. Hemmens het hoofsaaklik drie scenario’s bespreek wat die moontlikheid van gewelddadige protesoptredes en so meer oorweeg het. Voorbeelde en lesse wat tydens die 2021 onluste in KwaZulu-Natal geleer is, is ook tydens hierdie sessie voorgelê. Die vermoë van AfriForum se buurtwagte is ook bespreek.

Volgens Hemmens is dit noodsaaklik dat mense betrokke moet raak by hul gemeenskap se veiligheidsstrukture. “Almal het ’n rol wat hulle kan speel in ’n veiligheidstruktuur ongeag hoe oud of jonk hulle is. Ken jou bure en hou mekaar op hoogte van vreemde optrede wat julle opmerk in julle omgewing.”

Soortgelyke plasings