|

Unisa se waarnemende viserektor vir Finansies nader Valke om smeerveldtog te ondersoek

Dr Reshma Mathura, Unisa se waarnemende viserektor vir Finansies, het ’n strafregtelike klag by die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) ingedien om ’n sameswering te ondersoek wat haar valslik by ’n misdaad impliseer. Mathura, wat deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig word, was met geen alternatief gelaat ná die Unisa-bestuur se algehele verontagsaming vir haar klagte oor ongevraagde betalings wat aan haar private bankrekening gemaak is nie.

Die privaatvervolgingseenheid het nou ’n brief aan dr Daniel Mosia, voorsitter van Unisa se raad, gerig waarin gevra word dat hy ingryp om te verseker dat Mathura se klag intern ondersoek word. Hierdie versoek aan Mosia volg op twee briewe wat aan prof Puleng LenkaBula, visekanselier van Unisa, gerig is, wat onbeantwoord gebly het, behalwe vir ’n reaksie wat duidelikheid soek oor die privaatvervolgingseenheid se status as Mathura se regsverteenwoordigers.

Elke dag wat verbygaan sonder ’n reaksie van LenkaBula of Unisa se bestuur, versterk die persepsie dat Mathura die teiken is van ’n georganiseerde skema om haar valslik in oortreding te inkrimineer en dat die bestuur tevrede is met ’n atmosfeer van agterdog om haar. Dit is duidelik gemaak op ’n mediakonferensie op 17 April toe prof Romagoai Magano, viserektor vir Institusionele Ontwikkeling, verwys het na die bewerings teen Mathura, maar geen melding gemaak het van haar pro-aktiewe stappe om haar werkgewer in te lig oor wat gebeur het en haar pogings om dit te laat ondersoek nie.

Mathura het op 2 April kennisgewings ontvang van vier ongevraagde betalings van R330 elk wat aan haar private bankrekening gemaak is. Binne enkele ure het sy met haar bank gepraat en die name van vier mense gekry wat die betalings gemaak het. ’n Oorsigtelike ondersoek het aan die lig gebring dat dié name gelys is as studente wat op NSFAS-toelaes wag. Mathura is verantwoordelik om die uitbetaling van daardie fondse te magtig. Toevallig is ’n anonieme verslag van ’n fluitjieblaser aan Unisa gestuur waarin sy daarvan beskuldig word dat sy omkoopgeld van studente aanvaar. Vier deponeerders se kennisgewings van betaling is by die verslag aangeheg.

Op 3 April het die privaatvervolgingseenheid ’n brief aan LenkaBula gestuur waarin sy ingelig word oor wat gebeur het, en kommer uitgespreek oor ’n sameswering om Mathura uit haar amp te laat verwyder. Nog ’n brief is op 9 April gestuur.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dis nou al meer as twee weke en twee briewe later en Unisa se bestuur het nog nie gereageer nie. “Ons kantoor het nou dr Mathura se klagte en bekommernisse na die volgende vlak geneem. Ons vertrou dat dr Mosia die erns van wat gebeur sal insien en hoe die Unisa-bestuur se versuim om ’n senior bestuurder te ondersteun, aansienlike reputasieskade veroorsaak. Dr Mathura is ’n ywerige en toegewyde werknemer wat nog altyd in die belang van die instelling opgetree het. Unisa se oorverdowende stilte oor hierdie smeerveldtog het die wolk van agterdog wat vir dr Mathura bedoel is na die instelling se eie bestuur verskuif,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings