Moordsyfer vir noordstreek bereik skokkende 6 066 voorvalle vir 2017/2018


Bheki Cele, die Suid-Afrikaanse minister van polisie, het op 11 September 2018 die nasionale misdaadstatistiek vir 2017/2018 bekend gemaak.
Volgens Cele het die moordsyfers in Mpumalanga met 3,4% afgeneem en so ook het poging tot moord met 5,7% afgeneem. Roof met verswarende omstandighede het met 0,8% gestyg en gewone roof toon ’n afname van 13,9% die afgelope jaar.
In Limpopo het moord met 12,1% toegeneem; poging tot moord het met 6,6% toegeneem; roof met verswarende omstandighede het met 4,5% gestyg; en gewone roof toon ’n afname van 2,2% oor die afgelope jaar.
Moord in Gauteng het met 3,2% toegeneem; poging tot moord het met 8,4% afgeneem; roof met verswarende omstandighede neem af met 3,9%; en gewone roof sien ’n afname van 2,2% die afgelope jaar.
Die feit dat 6 066 moordsake in die noordstreek by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld is gedurende die afgelope jaar – Mpumalanga (922), Limpopo (911) en Gauteng (4 233) – is kommerwekkend. AfriForum sal die noordstreek ’n fokusarea maak om veiligheidstrukture te vestig om misdaad proaktief en binne die raamwerk van die wet te bekamp.

“AfriForum het reeds gevestigde veiligheidstrukture in al drie van die noordstreekprovinsies en wil graag ’n beroep doen op die gemeenskapslede en ander veiligheidsinstansies om betrokke te raak en saam te werk om sodoende te help om misdaad hok te slaan,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streeksveiligheidshoof vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings