|

Munisipale verkiesing: Ernstige probleme op talle plekke ervaar, al verloop proses in die algemeen vlot

Die burgerregteorganisasie AfriForum sal ’n breedvoerige verslag aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) lewer om kommer oor spesifieke kwessies tydens die 2021 plaaslike verkiesing op 1 November uit te lig. AfriForum was een van die grootste organisasies wat landwyd die verkiesing waargeneem het.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake en koördineerder van AfriForum se waarnemers, sê daar is meer uitdagings as in 2019 tydens die nasionale verkiesing ervaar. “Op die meeste plekke het die verkiesing normaal verloop, maar daar het beslis vanjaar talle probleme opgeduik wat nie so algemeen in 2019 was nie. Ons het ook heelwat klagtes van die publiek oor stem-frustrasies ontvang.

“Sekerlik die grootste kopseer was dat mense by sekere lokale geregistreer was, maar nie op die kiesersrol verskyn het nie. Baie van hulle stem al jare lank by ’n bepaalde stemlokaal en baie het vanjaar opnuut geregistreer omdat hulle verhuis het of vir die eerste keer stem. Veral diegene wat tydens die September-registrasienaweek iewers geregistreer het, het probleme ervaar. Die voorsittende beampte by ’n kieslokaal in Potchefstroom het ons waarnemer genader oor hoe om die situasie te beredder en was dus nie behoorlik opgelei om sulke voorsienbare situasies te hanteer nie.”

AfriForum se waarnemer in Kroonstad het aangedui dat die personeel totaal onvoorbereid ten opsigte van stemprosedures voorgekom het en by ’n stempunt in Waverley, Pretoria, het die personeel laat in die dag begin staak oor kontrakte en verversings. In Sasolburg kon heelwat mense wat in September geregistreer of herregistreer het, glad nie stem nie. “Dit laat vrae ontstaan oor die OVK se algehele gereedheid en personeel se opleiding voor hierdie verkiesing,” sê Brink.

Volgens Brink was die stelsels ook dikwels van lyn af en stembriewe het opgeraak. “Pierre van Ryneveld in Centurion is een voorbeeld waar stembriewe reeds vroeg nie genoeg was nie en dit het nog nooit daar gebeur nie. In Fochville was die stelsel twee keer vir sowat 10 minute op ’n slag af en in die Mooirivier-streek was daar nie behoorlike ondersteuning indien die stelsels nie gewerk het nie.

“Voldoening aan COVID-19-protokolle was ook wisselvallig met sekere stemlokale se personeel wat dit nougeset nagekom het en ander nie. Daar was ook klagtes in Krugersdorp en ander areas waar spesiale stemme weens OVK-afwesigheid of ’n gebrek aan koeverte nie uitgebring kon word nie.”

Brink sê AfriForum sal verdere ondersoek instel en die bevindinge in ’n verslag aan die OVK vervat. “Hoewel ons in abnormale tye met die pandemie leef en dit uiteraard ook die OVK se taak bemoeilik het, kan soveel foute bloot nie bekostig word nie. Dit beroof in sommige gevalle mense en gemeenskappe van die reg om te besluit wie hul gekose verteenwoordigers is. Die stempersentasie in hierdie verkiesing is na raming ontsaglik laag en sulke probleme kalwe die vertroue in politieke prosesse net verder weg.”

Soortgelyke plasings