|

AfriForum se Rustenburg-buurtwag en GPF ontvang opleiding by SAPD oor siviele arrestasies

Die AfriForum-buurtwag in Rustenburg, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), lede van National Crime Assist (NCA), asook lede van die gemeenskap het op 28 Oktober 2021 opleiding by die SAPD ontvang. Die opleiding het spesifiek gehandel oor siviele arrestasies en het gefokus op die regte van gemeenskapslede om hierdie arrestasies uit te voer. Dit volg nadat AfriForum en die GPF die plaaslike SAPD gekontak het en die behoefte vir die opleiding beklemtoon het. Die SAPD het spoedig op die versoek reageer en die opleiding is by die Rustenburg Hervormde Kerk aangebied.

“Dit is van kardinale belang vir ’n patrolleerder om sy regte te ken. Dit bemagtig hom om in ’n noodsituasie binne die raamwerk van die wet op te tree. Patrolleerders wat nie hul regte ken nie, is huiwerig om op te tree. Die opleiding was dus baie sinvol en dit was goed om die siening van die SAPD te kry op hierdie kwessies, aangesien ons saam met hulle werk om siviele arrestasies uit te voer. Tydens die opleiding is daar vasgestel vir watter tipe misdrywe ons siviele arrestasies mag uitvoer en watter ons mag doen om die arrestasie uit te voer,” sê Dawie Odendaal, buurtwagleier van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Dit is vir AfriForum baie belangrik dat ons buurtwaglede opleiding soos dié bywoon om hulle sodoende te bemagtig en ons gemeenskapsveiligheidstrukture te versterk. Dit was ook verblydend om te sien dat die SAPD ons buurtwag se hulp verwelkom en dat alle partye wil saamwerk; dit is uiters belangrik vir die bevordering van ’n veilige gemeenskap,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-buurtwag: SMS “buurtwag” na 45344 (R1) of skakel vir Dawie Odendaal by 072 074 9620.

Soortgelyke plasings