|

AFRIFORUM SE BRITS-BUURTWAG HELP OM VERDAGTE VAS TE TREK

Die AfriForum-buurtwag in Brits het op 26 Junie die SAPD en ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy gehelp om ’n vermeende misdadiger aan te keer. Buurtwaglede het tydens ’n patrollie ’n verdagte persoon op ’n privaat eiendom naby die Gereformeerde Kerk in Roodekoppies opgemerk. Die verdagte het gevlug en is te voet agternagesit en vasgetrek deur die buurtwaglede. Monitor Net en die SAPD het hulp verleen en die verdagte is op 27 Junie ongeveer 01:30 die oggend in hegtenis geneem.

“Ons kan nie langer duld dat misdadigers maak soos hulle wil nie. Daarom sal ons voortgaan om deur gedissiplineerde, wettige en goed beplande optrede misdadigers uit ons dorp en landelike areas te verdryf. Baie dankie ook aan Monitor Net vir die bystand wat hulle verleen het en vir hulle goeie samewerking met ons buurtwag,” sê Thys van Heerden, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Brits-tak.

“AfriForum se Brits-buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in hulle gemeenskap. Suksesse soos hierdie lê die hoeksteen vir ons om vreedsaam te kan saamwoon en saam aan ons toekoms te kan bou,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in Brits maak in terme van veiligheid en gemeenskapsprojekte en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Sluit vandag nog by AfriForum se Brits-tak en -buurtwag aan deur vir Thys van Heerden te skakel by 084 515 3978 of SMS “Brits” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings