| |

Naboom-tak kraai koning op die platteland met gesogte AfriForum-toekenning

AfriForum se Naboomspruit-tak op Mookgophong in Limpopo het behoorlik die stof in ander plattelandse AfriForum-takke se oë geskop toe dit tydens die burgerregteorganisasie se afgelope driejaarlikse nasionale kongres met die titel as Plattelandse Tak van die Jaar weggestap het. Die toekenning is Donderdag aan takbestuur oorhandig en sluit onder meer R15 000 prysgeld in wat die tak se vermoë om nóg projekte in belang van die dorp en sy mense mee aan te pak ’n verdere hupstoot gee.

Dié tak is vereer vir die omvangryke en suksesvolle projekte wat die afgelope jaar in dié dorp aangepak is of deurlopend getakel word. Noemenswaardige suksesse wat die afgelope jaar help toesien het dat Mookgophong nie soos talle ander plattelandse dorpe verval nie, sluit in: ’n projek waartydens elke stopteken in die dorp vervang is; die straatnaamprojek waardeur elke straatnaam vervang en oorgeverf is; en die voetoorgang- en padmerkerprojekte waartydens voetoorgange en padmerkers oorgeverf is. Daarbenewens bedryf die tak ook ’n deurlopende herwinningsprojek; beskik oor ’n doeltreffende buurtwagspan wat deurlopende patrollies uitvoer; onderhou twee noodwaterpunte; herstel maandeliks slaggate in die dorp; en het in die afgelope jaar meer as 46 000 m2 se gras gesny en weggeruim.

Volgens André van der Schyff, tesourier van die Naboomspruit-tak, is die tak “diep dankbaar” vir die erkenning. “Dit beteken baie vir ons en ons voel werklik geëerd. Ons is opreg dankbaar om hierdie gesogte toekenning vir ons dorp se tak te ontvang,” verduidelik hy. Van der Schyff benadruk egter dat die eer nie net die tak alleen toekom nie en hou vol dat die bydraes, skenkings en ondersteuning van ondernemings en inwoners op dié dorp ’n reuserol in die tak se sukses speel.

Intussen laat dié tak nie op hul louere rus nie en het Vrydag ingespring om die dorp se vullis te verwyder nadat probleme met munisipale vullisverwydering hier ondervind is. Die tak ondersoek, volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, nou ook die moontlikheid om self ’n vullisverwyderingsdiens in dié dorp op die been te bring.

Soortgelyke plasings