|

Nasionale verkiesing: ‘Elke stem sal tel’

Suid-Afrikaners trek môre hul kruisies in die sesde demokratiese verkiesing sedert 1994. Alhoewel AfriForum as burgerregteorganisasie nie by partypolitiek betrokke is nie, moedig die organisasie tog sy lede aan om te gaan stem.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in die geselsprogram Kallie maak kennis met … met sewe leiers van verskillende politieke partye gesels.

“AfriForum ondersteun nie ’n spesifiek party nie, maar ons vra ons lede wel om te gaan stem. Ons het uit ons jongste navorsing gesien dat meer as 90% van ons lede gaan stem. As lid van AfriForum kan jy self besluit vir wie jy wil stem,” sê Kriel.

Om ’n ingeligte besluit te maak, is daar in dié reeks met John Steenhuisen (leier van die DA), dr. Pieter Groenewald (leier van die Vryheidsfront Plus), Herman Mashaba (leier van ActionSA), Steve Swart (leier van die ACDP), Phil Craig (leier van die Referendum Party), Gayton McKenzie (leier van die Patriotic Alliance) en inkosi Mzamo Buthelezi (adjunkpresident van die IVP) gesels.

Volgens Steenhuisen is hierdie Suid-Afrika se belangrikste demokratiese verkiesing, want dit is die eerste keer in 30 jaar dat daar ’n kans is om die ANC uit die kussings te lig. “In hierdie verkiesing sal elke stem tel. Ons het reeds gesien hoe ’n paar stemme verandering op munisipale vlak gebring het. Ons het nou die beste geleentheid om ’n nuwe storie te skryf vir ons land, sy mense, asook die ekonomie.”

Hy sê verder dat daar iets aan die verval in die land gedoen kan word mits die politieke bestel in die land verander. “Mense moet na partye se baanrekords kyk wanneer hulle stem. Vra jouself af het hierdie party ’n geskiedenis van dienslewering?”

Craig het in die reeks genoem dat sy party, wat ongeveer ses maande oud is, veg vir Kaapse onafhanklikheid. Op nasionale vlak is dié party, volgens Craig, die stem vir verandering, die stem wat sê die huidige stelsel werk nie. “Ons is hier om vir selfbeskikking te veg, nie om te regeer nie. Die Referendum Party is vir mense wat genoeg gehad het van die huidige stelsel.”

Die Vryheidsfront Plus se slagspreuk vir dié verkiesing is “herstel en bou”. Dié party is van mening dat daar ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika gevestig moet word, ’n bedeling wat bou eerder as om te diskrimineer en te herverdeel. “Dit kan net gedoen word as ons saamwerk en hande vat om te bou. Daardie bou sluit ook plaaslike regering in, want die gemeenskappe is die boublokke van die herstel en bou. Daar moet ’n baie fikser en kleiner regering gestel word,” sê Groenewald in die reeks.

“Die voordeel van hierdie verkiesing is die feit dat sekere opposisiepartye saamstaan in ’n veelpartyooreenkoms. Nou kan AfriForum-lede vir die ACDP stem en weet dat ons saam met ander partye gaan staan teen die ANC, EFF en MK-party,” sê Swart.

Die Veelpartyhandves waarna hy verwys sluit die volgende partye in: DA, Vryheidsfront Plus, IVP, ActionSA, ACDP, Isanco, United Independent Movement (UIM), Spectrum National Party (SNP), United Christian Democratic Party (UCDP), Ekhethu People’s Party (EPP) en die Unemployed National Party (UNP). Hierdie partye het ooreengekom om saam te werk en te regeer in ’n poging om die ANC uit die kussings te lig. Die SNP, EPP en UNP kon egter nie vir die verkiesing registreer nie, maar sal wel die ander partye ondersteun en help om mense te mobiliseer.

Soortgelyke plasings