Hoogste Hof van Appèl se “Kill the Boer”-uitspraak laat boere in die steek; beklemtoon die belangrikheid daarvan om veiligheid in eie hande te neem

Die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak dat die “Kill the Boer”-dreunsang nie haatspraak is nie, plaas beide boere en Afrikaners in gevaar. Verder werp die feit dat waarnemende appèlregter, Raylene Keightley, nie van hierdie saak onttrek is nie, nadat dit aan die lig gekom het dat sy in die verlede sterk, bevooroordeelde menings teen AfriForum uitgespreek het, ’n skadu oor hierdie uitspraak.

AfriForum het die aanvanklike klagte teen die EFF en Malema in 2020 ingedien nadat EFF-ondersteuners “Kill the Boer, kill the farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar die beskuldigde moordenaars van plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is. Onlangse bewyse van hoe gevaarlik hierdie haatlike gesang kan wees, het in 2023 gekom toe ’n egpaar van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal wreed op hul plaas aangerand is terwyl hul aanvallers geskree het, “Kill the Boer, kill the farmer”.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verdien boere en Afrikaners dieselfde beskerming teen haatspraak as enige ander beroepslui of kultuurgroep. As die howe nie hierdie groepe teen haatspraak gaan beskerm nie, sal hulle hul veiligheid in eie hande moet neem.

“AfriForum het reeds meer as 172 buurt- en plaaswagte landwyd gevestig. In die lig van hierdie uitspraak sal AfriForum sy fokus op die besteding van ’n groot en groeiende hoeveelheid van sy hulpbronne en tyd in die verbetering en uitbreiding van ons gemeenskapsveiligheidsnetwerke verskerp deur middel van opleiding en toerusting,” sluit Kriel af.

AfriForum sal met sy regspan vergader om die moontlikheid van ’n Konstitusionele Hof-geding te bespreek.

Soortgelyke plasings