|

Nonnie de la Rey: Ystervrou in eie reg

“Nonnie se verhaal handel oor meer as oor hoe dit was om die vrou van genl. Koos de la Rey te wees. Haar verhaal is een van ʼn vrou wat uitdagings en hartseer geken het, wat nie bang was vir ‘mannewerk’ nie en wat vreesloos was om op te staan vir dit waarin sy geglo het.”

Só het Zelda Rowan, navorser en skrywer van die boek, Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Tranvaal, 1856-1923, vandag tydens dié amptelike bekendstelling van die boek by die Voortrekkermonument in Pretoria gesê.

Volgens Rowan is Nonnie se verhaal een waarmee hedendaagse vroue steeds kan identifiseer.

Volgens Alana Bailey, uitvoerende hoof van Kraal-uitgewers, is dié boek die eerste in die uitgewer se nuwe Kraal Histories-reeks en beloof dit om op ʼn objekte, wetenskaplike, maar tog leesbare manier Nonnie de la Rey se verhaal te vertel.

Rowan het gesê haar passie vir kultuurgeskiedenis het haar genoop om dié unieke vrou, wat bekend gestaan het as ʼn volksmoeder en die vrou van die boeregeneraal Koos de la Rey, se lewensverhaal te vertel. “My MA-verhandeling oor Nonnie se lewe is as basis vir die boek gebruik. Ek wou tydens my studies so graag skryf en navors oor ʼn vrou wat die Anglo-Boereoorlog meegemaak het, maar oor wie daar steeds genoeg primêre bronne soos dagboeke, briewe en foto’s was.”

Sy het dus met die hulp van prof. Fransjohan Pretorius, bekende historikus, daarin geslaag om ʼn deernisvolle biografie te skryf én ’n wonderlike verhaal te vertel.

Pretorius, wat ook optree as redakteur van die nuwe Kraal Histories-reeks, het tydens die bekendstelling gesê dat daar nie genoeg geleenthede tot dusver was om oor vroue se perspektief op die geskiedenis te lees nie. “Dit is lekker om te kan sê dat ons vir ʼn slag ‘haar kant’ van die geskiedenis lees en nie ‘sy kant’ nie,” het hy gesê.

Die boek vertel onder meer oor Nonnie se kinderjare, eerste ontmoeting en liefdesverhaal met die jong Jacobus Herculaas de la Rey, asook oor haar en haar kinders se swerfjare gedurende die Anglo-Boereoorlog.

Temas van innerlike krag, deursettingsvermoë én sterk geloof, kom volgens Rowan sterk voor in dié biografie. “Sy het haarself nie as minderwaardig geag nie en kon instaan en sterk staan in moeilike tye. Ek dink juis daarom is haar verhaal een wat aanklank by alle Afrikaners sal vind.”

Vir meer inligting of om ʼn bestelling te plaas, besoek www.kraaluitgewers.co.za.

Soortgelyke plasings