|

Nou beskikbaar: Die nuutste uitgawe van AfriForum se Forum-tydskrif

Die winteruitgawe van AfriForum se ledetydskrif, Forum, is nou beskikbaar. Dit is, soos oudergewoonte, propvol lekker leesstof en mooi foto’s wat betrekking het op allerlei projekte en sake waarby AfriForum betrokke is.

Die tema van hierdie uitgawe is “AfriForum maak só!” met die sangers Bok van Blerk en Bernice West wat op die voorblad pronk. Dié twee se liedjie “Die Afrikaner maak so” is in Januarie op YouTube gelaai en is al meer as twee miljoen keer gekyk.

AfriForum maak só is ook die titel van die nuwe AfriForum-nuusprogram waarin Forum Nuus se joernaliste ondersoekende nuusstories aan kykers bring. In die eerste episode loer AfriForum maak só in by AfriForum se privaatvervolgingseenheid en die legendariese adv. Gerrie Nel. Die waterkrisis in Bethal kom ook in dié episode onder die vergrootglas. Kyk hier na hierdie episode.

Dis nie net in Bethal waar ’n waterkrisis dreig nie. Verskeie ander dorpe gaan gereeld gebuk onder wateronderbrekings. AfriForum het al in 2019 die eerste van sy nagenoeg 70 noodwaterpunte in die land opgerig. Hierdie getal groei steeds. Lees meer hieroor in die Forum-tydskrif.

In Parys is ’n spreekwoordelike begrafnis vir dienslewering gehou. Parys het nie net waterprobleme nie, maar sukkel ook met kragonderbrekings en ontvang min tot geen dienslewering van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie. Die tydskrif sluit ook ’n storie oor hierdie uitdagings in.

Jean du Toit (Save Ngwathe), Jaco Grobbelaar (AfriForum), Karien du Plessis Viljoen (Save Ngwathe), Stuurman Busa (besorgde inwoner), Schalk Burger (AfriForum se Parys-tak) en Alta Pretorius (AfriForum)

Twee van AfriForum se grootste huidige veldtogte is om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) stop te sit. Eersgenoemde het pres. Cyril Ramaphosa kort voor die verkiesing tot wet geteken, ten spyte daarvan dat die uitvoerbaarheid en bekostigbaarheid van NGV uit verskeie oorde bevraagteken is. Die Bela-wet lê intussen ook op die president se tafel om onderteken te word. Lees meer oor AfriForum se strategie om ’n stokkie voor Bela en NGV te steek en die organisasie se planne vir ’n hofgeding in Forum-tydskrif.

Charné Mostert en Louis Boshoff van AfriForum tydens ’n protesaksie teen die Bela-wet.

Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, skryf oor die regering se mislukkings en rassediskriminerende beleide en Carina Bester stel ondersoek in na die gevreesde Onteieningswetsontwerp. Vir diegene wat nog nie van die Afrikaner Verklaring gehoor het nie, of nog nie die hele verklaring onder oë gehad het nie, is daar ook ’n artikel wat lig werp op die ondertekening van dié historiese dokument. Lees ook oor AfriForum se Tinteltong Toekennings, Dink of Sink 2024 en die Besigheidsbytjies-projek.

AfriForum se eerste Skerpskutskietdag is op 4 Mei gehou. Carina Bester het dié dag bygewoon en foto’s geneem om tydskriflesers ’n smakie van die dag se aksie te gee. Sy het ook gesels met Shaun Christie, ’n student van Noordwes-Universiteit wat deur dié universiteit geskors is nadat hy opgestaan het vir sy regte tydens ’n eerstejaarsfunksie op die Potchefstroomkampus.

Hierdie is egter net enkele van die hoogtepunte in die nuwe Forum­-tydskrif. Lees die volledige tydskrif hier.

Forum se 2024-winteruitgawe word binnekort per WhatsApp aan alle AfriForum-lede versprei. Maak gerus gebruik van hierdie nuwe, gebruikersvriendelike aanlyn leeservaring.

Verkies jy die gedrukte uitgawe van die Forum-tydskrif in jou hand? Is die reuk van papier en ink en die terugsit en ontspan met ’n tydskrif en ’n koppie koffie jou voorkeur? Maak dan seker dat jy die gedrukte uitgawe van Forum ontvang. Stuur ’n e-pos aan navrae@forumtydskrif.co.za en voeg jou naam op die verspreidingslys van die 2024-someruitgawe.

Soortgelyke plasings