|

Nuuskommentaar: Meer wette gaan nie chaotiese munisipaliteite help nie

Luister hier na die artikel:

Die regruk van beroerde munisipaliteite is glo op pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet se radarskerm.

Hy het pas op ’n kabinetslekgotla gesê hy hoop dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, hulle in die regte rigting sal lei om by dié onaanvaarbare situasie in te gryp. Die presidensie erken dit is onmoontlik om beleggings te lok om in plaaslike regerings te belê waar rioolstelsels nie werk nie, paaie onbegaanbaar is en daar nie water en krag is nie. Om nie eens van ontevrede inwoners se gewelddadige protesoptogte te praat nie.  

Ramaphosa het onlangs ook nuwe wetgewing onderteken wat glo sal help om die kapasiteit en etiese standaarde in munisipaliteite te versterk. Dit is daarop gemik om prestasie op plaaslike regeringsvlak om te draai en die misbruik van hulpbronne te voorkom.

Die situasie is egter so benard dat gewone landsburgers nie meer vir hierdie leë beloftes en planne val nie. Boonop is die president nie tans in ’n posisie waar hy hom juis oor eerbaarheid of etiese standaarde kan uitlaat nie. Sy Phala-Phala-plaas en die gesteelde miljoene hang soos ’n albatros om sy nek.

Dit irriteer ook gewone mense eintlik as Ramaphosa erken dat politieke inmenging in die adminitrasie van plaaslike regerings gelei het tot die verlies van goeie bestuurders en mense met tegniese vaardighede. Die hele wêreld weet dit! En talle lande is tog te dankbaar vir dié vaardige Suid-Afrikaners wat hulle die afgelope twee of drie dekades in diens kon neem en verwelkom. Die ANC-regering verdryf kundiges oor alle rasgrense heen en voordat beleide en regstellende aksie nie hersien word sodat mense op meriete aangestel word nie, sal die mislukkende staat in vryval bly.

Die verval en agteruitgang by munisipaliteite gaan nie gou regkom nie. Die probleem is dat die ANC-regering homself nie verantwoordbaar kan hou nie. En die prentjie word vererger as gekyk word na die ouditeur-generaal (OG), Tsakani Maluleke, se finansiële verslag van 2020/21 wat uitwys dat 28% van munisipaliteite in die afsienbare toekoms nie meer regtens as lopende sake beskou sal kan word nie. Onregmatige besteding by 64% van munisipaliteite het in dié geldjaar sowat R20,4 miljard beloop. Die onbekwaamheid van munisipale bestuurders skreeu ten hemele as in ag geneem word dat 64% van munisipale skuld as oninvorderbaar beskou word.

Gewone landsburgers wil nie meer na Ramaphosa en ministers luister wat hulle oor swak munisipaliteite uitlaat nie. Hulle wil verandering sien. Hulle wil dienste hê. En totdat ’n nuwe regering nie ingestem word nie, moet belastingbetalers aanvaar dat hulle op hul eie is. Dit is waarom instellings soos AfriForum lankal op grondvlak met vrywilligers hande gevat het om gemeenskappe te help om hul dorpe terug te neem en self reg te maak wat hulle kan. Want as ons vir die ANC wag, gaan dit dalk net nooit gebeur nie.

Meer mense is nodig om by AfriForum se veg-en-bou-strategie betrokke te raak. Aan die een kant word gebou deur die mislukkings ten opsigte van dienslewering en veiligheid self aan te spreek en aan die ander kant geveg om gewetenlose, skurkagtige amptenare aan die pen te laat ry. Verskeie regsgedinge in dié verband is aan die gang.

Soortgelyke plasings