|

Nuuskommentaar: Is Paul Mashatile werklik ’n slagoffer van media-agenda?

Glo dit of nie, maar adj.pres. Paul Mashatile het die slagofferkaart gespeel. Volgens berigte meen hy die media het ’n agenda om hom uit die kussings te lug. Daar is egter ernstige aantygings teen hom wat hy nog moet beantwoord voor ’n mens enigsins sal kan glo dat hy wel die slagoffer van ’n agenda teen hom is eerder as wat hy bloot besig is om self sy graf te grawe.

Lede van Mashatile se persoonlike veiligheidseenheid het vandeesweek in die hof verskyn op onder meer aanklagte van aanranding en roekelose bestuur. Dit volg ná ’n video op sosiale media versprei is waar ’n mens kan sien hoe agt swaar gewapende mans wat deel vorm van ’n blouligbrigade drie insittendes van ’n Volkswagen Polo op die N1-hoofweg naby Fourways in Johannesburg skop en slaan. Mashatile was blykbaar in die blouligkonvooi toe die voorval plaasgevind het, maar het self nog nie verduidelik wat gebeur het nie en ontken ook dat hy bewus was van die aanranding.

Mashatile was ook in die nuus oor bewerings dat sy luukse lewenstyl deur begunstigdes van staatskontrakte gefinansier word.

Dan is daar ook talle vrae oor hoe sy seun Thabiso en skoonseun Nceba Nonkwelo vir ’n luukse huis in Waterfall, Midrand, betaal het. Die huis se waarde is ongeveer R37 miljoen.

’n Onderneming van Nonkwelo het tussen 2013 en 2017 lenings van R30 miljoen van die Gauteng Partnership Fund (GPF) ontvang. Dié onderneming sou studentebehuising met die geld bou, maar dit het nooit gebeur nie. Mashatile was op daardie stadium die LUR vir menslike nedersettings in Gauteng en die GPF het aan hom verslag gedoen.

Die nuwe politieke party Rise Mzansi het gevra dat die Openbare Beskermer dadelik ’n verslag bekendmaak ná bewerings dat Mashatile die Grondwet oortree het. Rise Mzansi meen ook hy het sy ampseed en die etiese gedragskode oortree.

Hy sal waarskynlik vingers in ander mense se rigting wys of ’n klassieke Stalingrad-strategie inspan.

As Mashatile nie aan enige misdrywe skuldig is nie, behoort dit doodeenvoudig te wees om ten minste antwoorde oor die bogenoemde gevalle te verskaf. Maar eerder as om dit te doen, is ’n WhatsApp-groep deur die aktivis en ANC-lid Phapano Phasha op die been gebring om die adj.pres. te ondersteun.

En hoe gaan hy ondersteun word? ’n Sosialemediastrategie sal as teenaanval uitgevoer word oor Mashatile se leefstyl en die mense met wie hy hom assosieer. Blykbaar sal 500 Twitter (X)-rekeninge geskep word waarmee hierdie strategie uitgevoer gaan word. Die gesegde lui mos “waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie” en in Mashatile se geval is daar baie rook en waarskynlik ’n groot vuur. Is 500 rekeninge genoeg om die vuur te blus? Miskien is ’n hele brandweer eerder nodig. Net jammer die brandweer in Suid-Afrika is nog een van die staatsentiteite wat die ANC-regering in die grond in bestuur het.

So wat staan Mashatile te doen? Hy sal waarskynlik vingers in ander mense se rigting wys of ’n klassieke Stalingrad-strategie inspan. Noudat oudpres. Jacob Zuma dié strategie reeds so goed verfyn het, sal Mashatile lesse oor die uitstel en afstel van enige klagtes teen hom op Nkandla kan gaan leer. Of Zuma al sy geheime met Mashatile sal wil deel is ’n ope vraag. Intussen kan die belastingbetaler maar gereedmaak dat nog geld gesteel gaan word of verder aangewend gaan word om uitgerekte hofsake teen ANC-kaders te betaal.

Soortgelyke plasings