|

Nuuskommentaar: Minister en polisielyfwagte beroof, burgers moet eie veilig prioritiseer

Lydia Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer, haar broer en twee van haar lyfwagte was vandeesweek op die N3 tussen Vosloorus en Heidelberg slagoffers van misdaad nadat haar ampsmotor glo oor ysterpenne in die pad gery het. Volgens haar het hulle eers ’n ent probeer ry, maar die bande was te erg beskadig. Haar twee lyfwagte (gewapende polisiebeamptes) het uitgeklim om die bande te ruil toe hulle van agter aangeval en van hulle wapens geroof is. Nog ander items is tydens die voorval gebuit.

’n Mens sou dink dat dié twee beamptes teen die tyd al weet dat rowers vir etlike jare ysterpenne of ander voorwerpe wat skade aan motorbande aanrig in die pad pak om voertuie tot stilstand te dwing en mense dan roof. Tog kan ’n mens aflei dat een van die beamptes nie uitgekyk het vir gevaar terwyl die bande omgeruil word nie aangesien Chikunga luidens mediaberigte gesê het die beamptes is van agter aangeval. Was hulle dan nie op hulle hoede nie? Het hulle nie besef dat een persoon moet uitkyk vir gevaar nie? Hulle is dan juis aangestel om die minister te beskerm.

As Bheki Cele, minister van polisie, hierdie week op Popcru se nasionale kongres in Durban opdrag gegee het dat polisielede eers moet skiet en dan vrae vra, hoe gemaak in dié geval? As beamptes wat die land se elite moet veilig hou dit nie eens kan doen nie – soos in dié geval – hoe gaan hulle die derduisende ander Suid-Afrikaners en toeriste beskerm?

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die voorval ook as ongehoord beskryf. Oor dié opmerking wil ’n mens byna in ongeloof vra: Ongehoord dat iemand op hierdie manier geroof word of ongehoord dat ’n minister vir ’n slag aan dieselfde gevare as die res van Suid-Afrika blootgestel is? Of is dit ongehoord dat polisiebeamptes van hul wapens geroof word? Net in die afgelope twee jaar is talle polisiekantore in verskeie provinsies van wapens en ammunisie beroof. Of is dit so ongehoord dat ’n minister

Hierdie voorval waarin die beamptes nie ’n minister kon veilig hou nie, is ’n duidelike wekroep dat landsburgers self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet neem. Wees bewus – veral met die naderende Kersseisoen – van wat om jou aangaan en kyk uit vir verdagte mense. Weet hoe om jouself en jou gesin binne die raamwerk van die wet veilig te hou en raak betrokke by jou plaaslike veiligheidstrukture. Een ding is seker daar kan lankal nie meer op die polisie alleen staat gemaak word om ons veilig te hou nie.

Soortgelyke plasings