|

Veiligheidswenke: As jy weggaan die vakansie

36 wenke: Beveilig jou huis of plaas só 

Deur Marthinus Koekemoer 

Die skoolvakansie is net om die draai en of jy nou met Jan Tuisbly se karretjie ry of met vakansie gaan, veiligheid by die huis, op vakansie of op die plaas moet veral in dié tyd opgeskerp word. AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling se lys handige wenke bied advies oor hoe om jou en jou geliefdes hierdie feesseisoen optimaal te beveilig. 

As jy tuis is: 

  1. Let op na hoe jou of die bure se honde blaf. Dit is dikwels ’n aanduiding van gevaar of ’n bedreiging. 
  1. Bly op datum met die beurtkragskedule in jou omgewing. Kragonderbrekings maak die huis ’n sagter teiken waartoe kriminele makliker toegang kan kry. 
  1. Vind uit wanneer jou bure met vakansie gaan. Bekom die nodige telefoonnommers wat gebruik kan word indien ’n noodgeval sou opduik. 
  1. Sluit aan by die buurtwag, ry patrollies en neem kennis van informasie wat ingewin word.  

As jy met vakansie gaan:  

  1. Laat weet jou bure wanneer jy vertrek en wanneer jy gaan terugkom. 
  1. Moenie dat pos en koerante in die posbus ophoop nie. Kriminele kan hieruit aflei dat niemand by die huis is nie. Stel iemand aan om hierna om te sien en indien moontlik na jou huis te kyk. Stel die persoon aan jou bure voor. Hierdie persoon moet ook die nodige kontaknommers van mense hê wat tydens ’n noodgeval gekontak moet word. 
  1. Indien jy jou veiligheidsmaatskappy vertrou, laat weet hulle van jou reisplanne. Doen dieselfde vir jou buurtwagleier. 
  1. Wanneer jy die langpad aandurf, maak seker jou voertuig is padwaardig. Beplan jou roete voor jy die pad aanpak en pak ’n noodhulpkissie in en maak sodoende voorsiening vir mediese noodgevalle. 

As jy op die plaas is: 

  1. Bevriend jou bure. Jou bure is die eerste mense wat jou kan bereik as daar moeilikheid is. Hulle kan ook help om verdagte gebeure op en om jou plaas waar te neem. 
  1. Sorg dat jy die telefoonnommers van jou bure ken. 
  1. Sluit aan by die plaaslike buurt- of plaaswag. Indien daar nie een is nie, neem die leiding en stig een. 
  1. Wees paraat en gebruik veiligheidshekke en dies meer vir die doel waarvoor dit daar is. ’n Veiligheidshek is van geen waarde as dit oopstaan nie. Kriminele kan enige tyd van die dag toeslaan. Wees dus altyd op die uitkyk vir waarskuwingstekens. 
  1. Gebruik veiligheidstoerusting tot jou voordeel om tyd te koop in aanloop tot ’n plaasaanval. Maak seker die elektriese heining, infrarooistrale en alarms werk en is geaktiveer. 
  1. Veiligheidshekke en -deure, asook ander vorme van fisieke grense maak dit moeiliker vir kriminele om by jou uit te kom. Bring daardie ysterhek in jou gang aan wat jou en jou gesinslede meer tyd sal gee om te beplan indien kriminele toegang tot die huis kry. 
  1. Moenie dink jy sal nooit aangeval of oorrompel word nie. Dit kan met enigiemand gebeur. 
  1. Roetines kan ’n goeie en slegte ding wees. Aan die een kant kan kriminele jou gereelde roetine volg en sodoende bepaal wanneer jy op jou kwesbaarste is en dan toeslaan. Aan die ander kant skep roetine ook ’n verwagting by jou vriende, familie en kennisse. As jy en ander mense in die gemeenskap byvoorbeeld elke dag op dieselfde tyd kinders by die skool aflaai en een dag is so ’n persoon nie daar nie, kan dit ’n aanduiding wees daarvan dat iets met daardie persoon gebeur het. Bel en vind uit. Ander roetines kan aangepas word. Wissel byvoorbeeld die tyd af wat jy uitgaan om die honde kos te gee of om die tuin nat te lei. 
  1. Vra iemand betroubaar om na die plaas om te sien as jy met vakansie gaan. 
  1. As jy by die huis kom, ry (indien moontlik) gereeld om die opstal om te sien of kriminele jou dalk inwag. 
  1. Maak voorsiening vir ’n tweede ingang na jou opstal. Hou dit skoon sodat jy ver voor jou kan sien. Klippe en ander voorwerpe kan maklik in die pad geplaas word om jou te dwing om te stop. 
  1. Met jou tuiskoms moet plaasbewoners gewapen en gereed wees vir enige gebeurlikheid. 
  1. ’n Elektriese motorhek word bo ’n oopstoot- of swaaihek verkies sodat jy nie uit jou voertuig hoef te klim om dit oop te maak nie. 
  1. Behoorlike beligting om die huis is noodsaaklik. 
  1. Sny die onderkante van bome gereeld skoon om wegkruipplekke vir kriminele te beperk. 
  1. Gebruik gruis om jou huis om as ’n vroeë waarskuwing te dien. 
  1. Hou genoeg waghonde aan. Hulle is die boer se oë en ore. As honde blaf, is daar gewoonlik goeie rede daarvoor. Moenie dit ignoreer nie. 
  1. Wees op die uitkyk vir bottels, blikkies en dies meer wat rondom jou eiendom rondlê. Kriminele gebruik dikwels hierdie items om jou woning te merk. Gras wat platgelê is kan ook ’n aanduiding wees dat iemand daar geskuil het. 
  1. WhatsApp-groepe is ’n voorbeeld van moderne tegnologie wat ’n groot rol kan speel in die beveiliging van plase. ’n Mens kan egter nie net op selfone vir veiligheid staatmaak nie. Oorweeg dit om tweerigtingradio’s aan te skaf of om ’n sirene te installeer wat gebruik kan word indien daar ’n probleem is. Opleiding in die gebruik van die radio’s is belangrik. ’n Kode om nood aan te meld word ook voorgestel. Sodoende kan iemand wat byvoorbeeld deur kriminele gedwing word om aan te meld dat alles reg is, wel die boodskap oordra dat daar moeilikheid is. 
  1. ’n Mens moet nooit ná donker jou huis se veiligheidsone verlaat om buite ondersoek te gaan instel na ’n alarm wat afgegaan het, of ’n kraan wat loop of selfs iemand wat huil nie. Kriminele gebruik allerlei taktiek om mense uit hul huis te lok. 
  1. Slaan ag op vroeë waarskuwingstekens. Heinings wat reg opgestel is en ewe skielik seine of alarms stuur, kan ’n teken wees dat iemand die plaas probeer betree. Ontbied dadelik hulp. 
  1. Indien jy iemand op jou eiendom betrap moet ’n dossier by die polisie geopen word en ’n klag ingedien word. Vingerafdrukke moet geneem word om te bepaal of die persoon dalk vir ander misdade gesoek word. Meld alle verdagte persone en voertuie by jou naaste polisiekantoor aan. Moedig ook jou werknemers aan om verdagte aktiwiteite aan te meld. 
  1. Wees versigtig oor watter inligting jy oor jou perseel en gewoontes deel. Huis- en plaaswerkers dra dikwels die inligting aan kriminele oor. Doen vooraf deeglike ondersoek na die werksgeskiedenis van persone wat jy beoog om in diens te neem. Hou boek van al jou werknemers en stoor foto’s van hulle en hul identiteitsdokumente. 
  1. Werkers of vreemdelinge moet verkieslik nie direkte toegang tot die erf hê om aan die deur te klop nie. Bring ’n interkomstelsel by die hek aan. 
  1. Identifiseer die veiligste kamer in die huis waarna die gesin sal vlug indien daar gevaar is. Hierdie kamer moet verkieslik ’n sterk deur of selfs ’n staalplaat hê. Hou ook noodsaaklike medikasie en kommunikasiemiddele daar binne. ’n Selfoon kan byvoorbeeld in die kamer versteek word. Maak seker dit is altyd gelaai en word net in ’n noodgeval gebruik. Elke lid van die gesin moet ook presies weet wat hulle moet doen indien daar ’n aanval is. 
  1. Baie bejaarde mense wil nie van hul plase wegtrek nie of van moderne tegnologie gebruik maak om hul plase veiliger te maak nie. In so ’n geval moet die gemeenskap en ander familielede koppe bymekaarsit om die plaas te beveilig. 
  1. As jy ’n wapen het, moet dit aan jou persoon wees. Dit help nie dit lê in ’n kluis nie. 
  1. Te veel boere sien die opskerping van veiligheid as ’n duur en onnodige uitgawe. Die realiteit is egter dat die situasie só ernstig is dat geen onkoste te veel is nie.  

* Hierdie wenke is opgestel uit die navorsing van verskeie veiligheidstrukture. 

Soortgelyke plasings