|

Teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Witpoort as deel van Nasionale Boelievoorkomingsmaand

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het gister (17 Oktober 2023) Laerskool Witpoort, oos van Pretoria, besoek as deel van Nasionale Boelievoorkomingsmaand. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Afknouery neem verskillende vorms aan en kan ’n skadelike uitwerking op die lewe van ’n kind hê. Alhoewel daar verskillende grade van afknouery is, is elke kind uniek en reageer op sy eie manier op hierdie situasies. Daarom is dit belangrik dat ouers, voogde en onderwysers afknouery verstaan, sodat hulle in gesprek kan tree hieroor en kan identifiseer wanneer ’n kind hulp nodig het,” sê Riëtte du Plessis, ’n onderwyser van Laerskool Witpoort.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind en dus boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die gevare en gevolge van sosiale media en kuberafknouery is van kardinale belang en word ook met die leerders bespreek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings