|

Nuuskommentaar: Plan vir naamsverandering van Taalmonument net nog bewys van Afrikanerhatende ANC-spreekbuise

Die aankondiging van Nathi Mthethwa, die Minister van Kuns en Kultuur, oor die wysiging van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) in die Paarl se naam, is net die jongste in ’n lang reeks aankondigings oor naamsveranderings en pogings om elke spoor van Afrikaner- en Afrikaanse geskiedenis uit te wis.

In 2015 het die minister besluit dat die Anglo-Boereoorlog se naam amptelik na die Suid-Afrikaanse Oorlog moet verander en daarmee saam die naam van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein.

Hy was ook die minister aan die stuur van die voorstel dat alle monumente en standbeelde wat met Afrikaners te make het, in ’n temapark opgeneem behoort te word en nie meer in die openbaar sigbaar moet wees nie – ’n voorstel wat Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, so paslik as “’n konsentrasiekamp vir standbeelde” beskryf het.

Dan was daar die vele naamsveranderings – soos dié van Brandfort wat na Winnie Mandela herdoop moet word, maar waar hy lelik teenstand van alle inwoners gekry het omdat hulle ly onder uiters gebrekkige dienslewering en die naam van die dorp en munisipaliteit die laaste van hulle kwellinge is.

Instellings soos die Oorlogsmuseum en Taalmonument is van die mees inklusiewe instellings in die land – hulle bou al vir dekades brûe na alle gemeenskappe in die land. Mthethwa en ander se herhaaldelike aanslae bewys ongelukkig dat inklusiwiteit of nasiebou nie deel van die agenda is nie, maar slegs weerwraak teen een spesifieke gemeenskap.

Die eerste belangrike aspek van AfriForum se teenkanting teen die naamsverandering van die Taalmonument is die feit dat miljoene rande vermors kan word op simboliese magsvertoon soos verslae oor temaparke, hemelhoë vlagpale en naamsveranderinge, terwyl lewensnoodsaaklike dienste en instellings in die slag bly.

Die tweede rede vir AfriForum se teenkanting is dat ons moeg is vir die toertjies van die magshonger, korrupsiedeurdrenkte, Afrikanerhatende ANC spreekbuise soos Mthethwa, maar ook minister Blade Mzimande wat sogenaamd nie weet dat Afrikaans en Khoi- en Santale inheems is nie, of Panyaza Lesufi wat verklaar dat hy gewalg word deur die bestaan van enkelmedium Afrikaanse instellings, maar niks doen om skole wat disfunksioneel is en waarvan ons bewys lewer op versoek van ouers en gemeenskapsleiers, te help nie.

Afrikaners en Afrikaanssprekendes het die reg, soos enige ander gemeenskap in die wêreld, op die gebruik van hulle taal en op erfenisbakens wat hulle bydrae tot die geskiedenis van die land herdenk. Dit is ’n reg wat ook in die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word.

Die situasie van die Oorlogsmuseum destyds en die Taalmonument nou, is dat dit verklaarde staatsinstellings is, in die hande van die ANC gelaat deur die welmenende belastingbetalende publiek. Dit gee aan ideoloë soos Mthethwa die mag om hierdie speletjies met hulle aard en voortbestaan te speel.

Die uitdaging waarvoor ons as ’n gemeenskap staan, is in die eerste plek om instellings wat nog nie in hulle mag is nie, soos die Voortrekkermonument, uit hulle hande te hou en voldoende te ondersteun dat dit kan voortbestaan. Tweedens, dat ons die sterkste moontlike teenkanting toon teen voorstelle soos dié om die Taalmonument se naam te verander.

Soortgelyke plasings