|

SPLINTERNUWE AFRIKAANSE PRENTEBOEK VIR KLEINSPAN BINNEKORT BY KRAAL UITGEWERS TE KOOP

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

’n Splinternuwe en pragtige geïllustreerde Afrikaanse prenteboek vir jong lesertjies is binnekort op Kraal Uitgewers se webtuiste te koop.

Prinsessie en Boekeman, geskryf deur Ilze Nieuwoudt met illustrasies deur Thomas Snyman, is die ideale leesstof vir vroeë lesers en vertel die verhaal van Prinsessie, ’n jong en gretige lesertjie, wat haarself in die allermooiste stories en karakters van al haar geliefde boeke verloor. Op die oog af het sy dalk alles wat ’n prinses voor kan vra, maar tog ervaar sy soos talle ander kinders moeilike seisoene, waartydens sy ’n boekefort bou om haarself teen die wêreld te beskerm.

Wanneer sy uiteindelik haar ouers se kasteel verlaat, gaan sy op ’n lang reis waar sy in ’n magiese boekefort vasloop. Hier ontmoet sy Boekeman, wat duidelik so lief is vir boeke soos sy, en ontdek sy dat om ervarings met iemand te deel soveel beter is as om “eentjie alleentjie” deur die lewe te gaan.

Prinsessie en die Boekeman is ’n klassieke prenteboek, maar dit val ook in die kategorie van rymboeke, soortgelyk aan die styl van die immergewilde Dr. Seuss-boeke.

Nieuwoudt het dit aanvanklik op haar selfoon een nag gelê en tik tydens 2020 se vlak 5-grendeltyd en dit vir lank eers net daar gelaat. “Ek het nog altyd ’n groot voorliefde vir rymboeke gehad en ook gevind dat toe my kinders kleiner was hulle veral van stories wat in rym vertel word gehou het. Boonop het stories soos die Franse skrywer Agnes de Lestrade (veral Die land van die groot woordfabriek), die Duitser Miriam Koch (met Andries Anders en Halsoorkop) en my eie uitvoerende hoof van Kraal, Alana Bailey se verhaal Prinses van die Afrikavlaktes, my geïnspireer om ’n storie te kan vertel vir kinders én volwassenes. Hulle verhale het soveel diepte en het die vermoë om die leser op verskeie vlakke te vermaak en te raak op ’n emosionele vlak,” sê sy.

Met Prinsessie en Boekeman het sy van haar eie letterkundige liefdes ingewerk, soos verwysings na Ingrid Jonker se gedig “Kabouterliefde” en Antoine de Saint-Exupéry se Little Prince. In die boek lees Prinsessie ook oor die bekende karakters waarmee Suid-Afrikaanse kinders groot geword het, soos Wolraad Woltemade en Racheltjie de Beer. “Ons kan nie verwag om mense eers as volwassenes aan Afrikaanse letterkunde bloot te stel nie. Die liefde daarvoor moet van kleins af gekweek word, met karakters waarmee die kinders kan identifiseer. Daarom was dit vir my belangrik om verskeie Suid-Afrikaanse elemente in die storie in te sluit.”

Snyman se oorspronklike en energieke illustrasies laat Nieuwoudt se karakters ook werklik lewe kry en sorg dat nuwe lesertjies wat nog nie so vertroud met woordeskat is nie steeds saam met ma en pa die verhaal maklik kan volg. Hy werk tans as beide grafiese ontwerper en illustreerder en vertel dat die vryheid wat illustrasies vir kunstenaars bied werklik vir hom die geleentheid gegee het om sy gedagtes te laat gaan. Hy het waterverf-illustrasies bo digitale illustrasies vir die boek gekies, so elke blad is werklik ’n klein stukkie kuns.

Nieuwoudt is publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers en Snyman ’n grafiese ontwerper by AfriForum.

Hou www.kraaluitgewers.co.za dop vir die bekendstelling van die boek.

*Hooffoto: Ilze Nieuwoudt en Thomas Snyman

Soortgelyke plasings