|

Nuuskommentaar: Rekordgetal TV-lisensiegeldontduikers regverdig skrapping

Die voorsitter van die SAUK-direksie, Khathutselo Ramukumba, het in 2023 aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie onthul dat die TV-lisensiegeldontduikingskoers in die land die afgelope boekjaar meer as 87% bereik het, vergeleke met 82% in 2022 en 69% in 2019. Anders gestel, slegs 13%, of sowat 1 uit 10, TV-lisensiehouers het verlede jaar lisensiegeld betaal. Hierdie treffende verskynsel van burgerlike ongehoorsaamheid, wat ook gesien kan word as massaprotesoptrede teen ’n gebroke, korrupte stelsel, spreek van ’n staat wie se kapasiteit by die dag verbrokkel, terwyl dit desperaat vasklou aan ’n illusie van mag, wat dit deur toenemende staatsgesentreerde wetgewing en regulasies probeer afdwing.

Die bogenoemde hemelhoë ontduikingskoers plaas dié verdwaalde SAUK-skapie van die regering in dieselfde slagkraal as sy e-tol-lam, wat in 2023 ’n ontduikerskoers van selfs meer as 90% gehad het. As die regering nie TV-lisensies amptelik afskaf nie, gaan die burgery dit binnekort eenvoudig deur massa-nie-nakoming, nie-amptelik vir hulle doen. Hierdie werklikheid het AfriForum gemotiveer om deur die finale afskaffing van TV-lisensies, die de jure-posisie in lyn te bring met die de facto-posisie. Die organisasie het hierdie week skriftelike kommentaar in hierdie verband aan die portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie rakende die Wetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie SOC BPK [B32-2023] ingedien.

Die ooglopende oplossing wat AfriForum voorstel is dat die SAUK so spoedig moontlik geprivatiseer word. Indien die regering hierdie voor die hand liggende voorstel vir die desentralisering van staatsmag verwerp, is die alternatief dat TV-lisensies bloot amptelik geskrap moet word. Privatisering van die SAUK sal bydra tot beter doeltreffendheid, hoër gehalte inhoud, sowel as finansiële volhoubaarheid. Privatisering sal ook die belastingbetaler geld spaar en help om korrupsie en wanbestuur te beveg. ’n Geprivatiseerde SAUK sal op ’n suiwer kommersiële basis bedryf word, wat TV-lisensies natuurlik iets van die verlede sal maak.

Die SAUK het einde Maart 2023 ’n allemintige verlies van meer as R1,1 miljard gerapporteer. Onlangse onthullings skets ’n chaotiese prentjie by die SAUK. Aanhoudende voorvalle van korrupsie, finansiële wanbestuur en bedrog, bring die SAUK by die dag nader aan die randjie van totale ineenstorting. Die SAUK se finansiële hoof, Yolande van Biljon, meen dat die staatsonderneming binnekort gedwing sal word om vir sakeredding aansoek te doen.

Volgens William Bird van Media Monitoring, moet die meeste van die skuld vir die krisis waarin die SAUK homself tans bevind, uitsluitlik voor die regering se deur gelê word. Die Suid-Afrikaanse regering het oorgenoeg tyd en geleenthede gehad om die verslegtende situasie by die SAUK te probeer omkeer. Die regering se gunstelingoplossing om eenvoudig nog meer geld in hierdie bodemlose, sukkelende staatsondernemingsput te gooi, grens aan gekheid. In 2023 het die adjunkminister van kommunikasie, Philly Mapulane, gebieg dat die SAUK nou in ’n slegter posisie verkeer as voordat dit die laaste finansiële reddingsboei van R3,2 miljard vanaf die regering ontvang het in 2019.

In 2023 het die voorsitter van die SAUK-raad erken dat die SAUK se huidige finansieringsmodel onvolhoubaar en boonop onvoldoende is om sy huidige diensmandaat te befonds. Dit is hoogtyd vir ’n alternatiewe, nie-staats-sentriese benadering tot openbare uitsaaiwese. Hoe dit ook al sy, die huidige disfunksionele status quo by die SAUK is van sy stasie af en kan nie so krakend voortploeter nie. ’n Verandering van kanaal is nodig.

Soortgelyke plasings