|

Verhoordatum uiteindelik vasgestel in saak van moord op bekende Mokopane-prokureur Schalk Pienaar

Byna veertien maande nadat die bekende Mokopane-prokureur Schalk Pienaar vermoor is, is ’n verhoordatum uiteindelik vasgestel vir die man wat daarvan beskuldig word dat hy dié misdaad georkestreer het. Pienaar is op 19 September 2022 vermoor kort nadat hy by die huis aangekom het. Hy is tien keer in sy oprit geskiet. Tsholofelo Joseph Motsoane is in Oktober 2022 in hegtenis geneem en van die misdaad aangekla. ’n Tweede beskuldigde is ook gearresteer, maar die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

Motsoane is aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg en ander vuurwapenverwante aanklagtes en het glo ook die ontsnappingsvoertuig bestuur. Die polisie probeer steeds ander verdagtes opspoor wat met die moord verbind word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Pienaar-gesin, wat dié eenheid genader het ná talle vertragings met die afhandeling van die saak. In opeenvolgende hofverskynings wat strek oor maande sedert Motsoane se inhegtenisneming, is die saak uitgestel, maar vir een of ander onverklaarbare rede is ’n verhoordatum tot onlangs toe nog nie vasgestel nie. Die vertragings het baie angstigheid vir die Pienaar-gesin veroorsaak weens die moontlikheid dat geregtigheid nie sal geskied nie.

Motsoane het Dinsdag, 16 Januarie, in die Mokopane-landdroshof verskyn om aansoek om borgtog te doen, maar die saak kon nie voortgaan nie omdat sy prokureur nie die nodige dokumentasie gehad het om haar reg van verskyning te bewys nie.

Die eenheid het saam met Pienaar se weduwee, Fransie, hof toe gegaan. “Fransie Pienaar bly getraumatiseer ná die voorval – haar man het in haar arms gesterf. Sy het Dinsdag die hofverrigtinge bygewoon om ’n beter begrip oor die status van die saak te kry, maar weens omstandighede buite haar beheer is sy weer radeloos en teleurgesteld gelaat. Die vorige vertragings met die afhandeling van die saak het die familie se vertroue in die strafregstelsel geknou en ons hoop die saak sal met haas voortgaan en tot finaliteit gebring word,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid.

Pienaar se seun Benjamin sê hy waardeer die eenheid se ondersteuning. “Ons weet van die situasie in die howe. Is dit onbevoegdheid? Is daar gekonkel? Ons het AfriForum genader toe niks blyk te gebeur nie. Ons hoop is dat druk op die NVG geplaas word om hierdie saak te verhoor. Dit alleen sal egter nie vir ons finaliteit bring nie, maar iets moet gebeur. Geregtigheid moet geskied.”

Die borgaansoek is uitgestel tot 23 Februarie 2024.

Die verhoor is vir 22 tot 26 Julie 2024 in die Hooggeregshof Polokwane op die rol geplaas.

Soortgelyke plasings