|

NUUSKOMMENTAAR: Vonnis van aanrander laat vertroue in strafregstelsel verder kwyn

Die veroordeelde aanrander Jaco “Hooligan” Swart se vonnis onlangs in die Pretoria-Noord Streekshof het skokgolwe deur die land gestuur.

Hy is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind en gevonnis tot ’n boete van R20 000 sowel as drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Die beeldmateriaal wat wys hoe Nicoleen Swart – Swart se vervreemde vrou – herhaaldelik met die vuis geslaan word en later geskop word is nie as bewyse in die saak toegelaat nie maar is wyd op sosiale media gedeel. Almal op sosiale media was dit eens dat dié vonnis lagwekkend is.

Swart het ter strafversagting gesê dat hy berou getoon het, programme bywoon en berading ontvang. Dit het egter aan die lig gekom dat hy na bewering die naweek voor sy vonnisoplegging sy eks-meisie en haar huidige kêrel ook aangerand het.

In ander nuus is ’n polisieman vandeesweek tot ses jaar tronkstraf gevonnis omdat hy omkoopgeld aanvaar het. Twee kabeldiewe is in Augustus verlede jaar gevonnis tot 16 jaar tronkstraf elk en ’n derde tot 12 jaar tronkstraf. Dit staan in skerp kontras met Swart se R20 000 boete en opgeskorte tronkstraf vir die kere wat hy sy vrou voor hulle twee jong seuns gewelddadig geskop, gestamp en met die vuis geslaan het.

Natuurlik moet ’n mens appels met appels vergelyk, korrupsie en kabeldiefstal is van die ernstigste probleme in Suid-Afrika en dit moet beslis swaar gestraf word. Geweld teen vroue en kinders is egter ook ’n ernstige probleem in Suid-Afrika, so ernstig dat pres. Cyril Ramaphosa op verskeie geleenthede die nasie toegespreek het oor die kommerwekkende hoë vlakke van geweld teenoor vroue en kinders. Juis daarom raak dit moeiliker om vertroue in die strafregstelsel te behou as korrupte wetstoepassers en kabeldiewe swaarder gestraf word as diegene wat skuldig is aan huishoudelike geweld, verkragting en selfs moord.

Genl. Fanie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het Woensdag gesê dat gemeenskappe toenemend die reg in eie hande neem omdat hulle vertroue in die strafregstelsel in geheel verloor en nie net oor ’n gebrek aan vertroue in die SAPD nie. Wanneer mense soos Swart net kan berou toon en berading kan ontvang in ruil vir ’n skandelike ligte vonnis kan ’n mens beter begryp waarom gemeenskappe self optree om geregtigheid te laat geskied. Die lang arm van die gereg raak duidelik al hoe korter en korter.

Masemola se woorde is weerspieël in die kommentaar op sosiale media waar talle mense hul begeerte uitgespreek het om Swart self by te kom aangesien die hof se straf nie swaar genoeg is nie. Benewens die sagte vonnis wat Swart gekry het, moet daar ook onthou word dat hierdie aanrandingsaak vir lank gesloer het en ook van die rol geskrap is voor AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingetree het om vir Nicoleen by te staan.

Swart se vonnis en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se reaksie dat die R20 000 boete “nie te sleg is nie” tesame met die feit dat Nicoleen nie die geleentheid gegun is om self te getuig oor wat met haar gebeur het nie stuur ’n negatiewe boodskap uit aan ander slagoffers van huishoudelike en geslagsgebaseerde geweld. Nicoleen se dapper besluit om aanspraak te maak op geregtigheid moet ander slagoffers bemoedig om ook na vore te tree maar die gedagte dat ’n gewelddadige oortreder met net ’n raps oor die vingers kan wegstap dwing slagoffers dieper in die skadu’s in uit vrees vir hul eie lewens asook die van hul naastes. Dit is betreurenswaardig en móét verander.  

In die lig van hierdie skuldigbevinding het AfriForum se privaatvervolgingseenheid gister aangekondig dat hulle nog ’n vrou gaan bystaan wat ’n slagoffer van beweerde geweld is. Sers. Lizzy Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskerming- en sekuriteitsdienste is na bewering in 2018 deur die adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer,  Vuyo Mhlakaza-Manamela, aangerand. Mojapelo was ten tyde van die voorval aan diens en het die nodige prosesse gevolg deur die voorval aan te meld. Ondanks prima facie-bewyse teen Mhlakaza-Manamela is die saak verlede jaar teruggetrek en Mojapelo is glo deur senior aanklaers ingelig dat hierdie saak moeilik vervolg sal word aangesien die verdagte ’n hoëprofielpersoon is.

Mojapelo was 11 weke swanger toe die beweerde aanranding plaasgevind het en sy moes verskeie behandelings ondergaan om te verhoed dat sy die baba verloor.

Benewens die feit dat die NVG bloot onwillig blyk te wees om hierdie sake te vervolg, dui dit ook op die waarde wat die NVG plaas op die veiligheid van vroue en kinders. Dit is te maklik om hulself blind te hou en net elke nou en dan kommer uit te spreek oor die statistieke. Die tyd het aangebreek om “onaantasbare” politici tot verantwoording te roep en vir slagoffers van geweld te wys dat hulle gehoor word en ook saak maak.

Soortgelyke plasings