|

AfriForum plaas Ngwathe-munisipaliteit oor besoedelde drinkwater op terme

AfriForum het vandag die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor die haglike toestand van die drinkwater in Parys. Die resultate van die laboratoriumtoetse deur die drukgroep, Save Ngwathe,  toon duidelik dat die drinkwater vuil is en dat daar E. Coli-bakterieë in die kraanwater teenwoordig is, wat beteken daar is rou riool in die water. Die watermonsters is in Tumahole en in die sakekern geneem. Dit is kommerwekkend dat menigte mense in Parys met maagprobleme sukkel aangesien ons ’n situasie soos vroeër in Bloemhof, waar mense weens besoedelde drinkwater gesterf het, ten alle koste wil vermy. AfriForum het die Ngwathe-munisipaliteit 24 uur gegee om drasties by die toestand van die drinkwater in te gryp. Indien daar binne 24 uur nie ’n daadwerklike verandering is nie, sal AfriForum alle remedies beskikbaar uitput om toe te sien dat Parys se inwoners skoon drinkwater het.

Hierdie haglike omstandighede in Parys dui op die munisipaliteit se onbevoegdheid. Alhoewel hulle ’n ooreenkoms van samewerking met AfriForum onderteken het, het hulle tot op hede nog niks van hulle verpligtinge in die ooreenkoms nagekom nie. AfriForum het hulle van beloofde verslae oor die water- en die rioolwerke voorsien asook ’n raamwerk waarvolgens hulle te werk moes gaan om die toestand van beide werke te verbeter. Niks is egter gedoen nie.

“Dit blyk asof die munisipaliteit glad nie die gemeenskap se belange op die hart dra nie, aangesien hulle die gemeenskap eerder met vuil water vergiftig as om bekwame mense, wat tot hulle beskikking gestel word, te gebruik om hierdie probleme op te los,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

“As enige iemand ooit daaraan getwyfel het dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onbevoeg is, het hierdie kwessie dít nou bewys. Saam met ander organisasies wat vir die gemeenskap omgee, soos die Save Ngwathe-groep, sal ons hierdie saak nie daar laat nie, want ons gemeenskappe het die reg op skoon drinkwater,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings