|

Video: Kom hardloop saam met ‘Stillknocks’ ter ondersteuning van plaasmoordslagoffers!

Deur Alet Rademeyer

Plaasmoorde en die trauma en nagevolge waarmee dit slagoffers laat, is ’n kwessie wat Dricus du Plessis (27), Suid-Afrikaanse gemengde-gevegskunstenaar, baie na aan die hart lê.

Du Plessis het die publiek uitgedaag om saam met hom en Bennie Roux, ’n ultramarathonatleet van Pretoria, eerskomende Saterdag aan die AfriForum-traumaeenheid se #HardloopVirHoop-byeenkoms by die Voortrekkermonument deel te neem.

Die geld wat die slagofferondersteuningsfonds insamel, word gebruik om berading en bystand aan slagoffers te verleen op die misdaadtoneel en tydens hofsake.

Die hekke open reeds vroeg en deelnemers kan na gelang van hoe hulle voel besluit of hulle gaan stap of draf. Die inskrywingsfooi is R50 per persoon en daar is ’n 5 km-, 10 km- en 15 km-stap of -hardloop asook ’n 10km-fietsry.

Daar is ook ’n VAT5-kompetisie vir die langasems wat spanne kan inskryf om die 5 km soveel kere moontlik aan te durf. Dit werk so: Tydens die VAT5-kompetisie los ’n span van vyf mense mekaar af om die 5 km-roete soveel keer moontlik te hardloop. Die mans-, vroue- en gemengde span wat die meeste rondtes aflê, gaan elkeen ’n prys ontvang. VAT5-kompetisiedeelnemers moet al om 05:30 aanmeld om 06:00 weg te spring. Hulle maak die aand om 18:00 klaar. Die span is ook verantwoordelik om ’n borg te kry wat hulle per rondte sal borg. Die borggeld word aangewend vir die AfriForum-traumaeenheid se slagofferondersteuningsfonds.

“Ons wil deur die #HardloopVirHoop-inisiatief nie net bewusmaking oor plaasaanvalle en ‑moorde skep nie, maar ook die erns van die trauma wat met hierdie gruwelmisdade gepaardgaan, aan die publiek verduidelik,” sê Izel Kruger, ’n projekbestuurder by die traumaeenheid.

Die Traumaeenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad, veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Hulle het al sowat 300 mense ondersteun.

Die geld wat die slagofferondersteuningsfonds insamel, word gebruik om berading en bystand aan slagoffers te verleen op die misdaadtoneel en tydens hofsake, asook om in enige ander dringende en onmiddellike behoeftes soos kos en medisyne te voorsien.

Du Plessis het verlede jaar in Oktober die platform by die Ultimate Fighting Championships (UFC) in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gebruik om ’n beroep te doen dat plaasmoorde gestop word. Du Plessis, wie se ouers self boere is, het gesê Suid-Afrika beleef tans ’n moeilike tyd met plaasmoorde en dat mense in die land daagliks vermoor word. Dit was ook sy eerste oorwinning in die internasionale UFC-reeks.

Roux, wat reeds verskeie kere aan die #HardloopVirHoop-inisiatief deelgeneem het, sê die werk wat AfriForum se traumaeenheid doen, is van onskatbare waarde vir mense wat slagoffers van gewelddadige plaasaanvalle en –moorde is. “Die eenheid en sy mense help om gebroke mense weer heel te maak en hoop te bring waar mense moedeloos en verpletter is deur smart oor hul geliefdes wat van hul weggeruk is. Ek nooi almal uit om Saterdag saam met ons te kom hardloop om ’n verskil te maak.”

Om in te skryf, klik hier of skakel 064 870 8312.

Soortgelyke plasings