|

NVG brouwerk laat slagoffer van geslagsgebaseerde geweld in die steek

Die staat se gevoellose minagting van die regte van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en geregtigheid was vandag, 22 November, ten volle in die Hatfield-landdroshof ten toon gestel. Vir ’n derde agtereenvolgende keer het ’n staatsaanklaer versuim om die vereiste hofstukke in ’n saak van gesinsgeweld voor te lê, wat daartoe gelei het dat die saak voorlopig teruggetrek moes word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag op namens die klaagster, Milene Hill, wat haar eks-kêrel, Johnny “Rockett” Schuurman van aanranding beskuldig het. Oorgenoeg bewyse van die beweerde misdryf, waarvan sommige deur die eenheid ingesamel en by die staat ingedien is, is in die dossier saamgestel. Die eenheid meen daar is ’n sterk saak waarop die beskuldigde moet antwoord.

Ten spyte hiervan het herhaalde verbrouings by die hof en by die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) nou daartoe gelei dat hierdie saak teruggetrek is. Die aanklaer het vandag aan die hof gesê dat ’n advokaat by die DOV se kantoor in besit is van die dossier en ’n besluit vanaf die DOV, maar daardie persoon kon nie bereik word nie. Die landdros het die staat se aansoek om verdere uitstel van die hand gewys.

Hierdie ontwikkeling sal Hill se strewe na geregtigheid vertraag. “President Cyril Ramaphosa se beloftes om geslagsgebaseerde geweld aan te spreek was veral ydel toe die NVG gedwing is om hierdie aanrandingsaak terug te trek,” het die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, gesê.

“Die ontoereikendheid en onbevoegdheid van aanklaers wat in die howe vertoon word, is ’n skokkende getuienis van die lippediens wat ons gereeld van senior regeringsamptenare, insluitend die president, sien. Dit is ’n verregaande aanklag teen die stand van die strafregstelsel en verdere bewyse van hoe die staat die mees kwesbares in die samelewing faal.”

Die privaatvervolgingseenheid sal dit nou oorweeg om aansoek te doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat om die saak privaat te vervolg. “Dit is duidelik dat die enigste manier om geregtigheid vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te verkry, is dat sulke sake privaat vervolg moet word. Die onwilligheid of onbevoegdheid van aanklaers hou aan om slagoffers van hierdie nasionale pandemie in die steek te laat,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings