|

Hoogtyd om kommandostelsel weer in die lewe te roep

AfriForum Gemeenskapsveiligheid het die minister van Verdediging, Thandi Modise, genooi om met die organisasie te vergader. Dit volg nadat die minister tydens ’n onlangse debat oor oorgrensmisdaad gesê het dat sekere aspekte van die voormalige kommandostelsel weer in die lewe geroep moet word.

Die kommandostelsel, wat in 2003 ontbind is, was ’n uiters effektiewe veiligheidstelsel waar vrywilligers nou saam met die weermag gewerk het om landelike- en grensgebiede te beveilig. Die ontbinding van die kommandos het ’n gulde geleentheid aan misdadigers in landelike gebiede geskep om die leemte in wetstoepassing uit te buit en die gevolge daarvan is steeds ooglopend.

AfriForum het 159 buurtwagstrukture landswyd en sowat 10 000 opgeleide vrywilligers wat ’n aktiewe rol speel om hul gemeenskappe te beveilig.

“Dit is hoogtyd dat die regering besef dat burgerlikeveiligheidstrukture soos buurtwagte ’n effektiewe maar ook noodsaaklike rolspeler in die stryd teen misdaad is, dus verwelkom ons die minister se uitspraak en sal graag met haar wil gesels oor die fyner besonderhede van die voorstel,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“AfriForum Gemeenskapsveiligheid is uiters ervare met die vestiging en bestuur van gemeenskapsveiligheidstrukture binne die raamwerk van die wet. Ons bied aan om hierdie ervaring met die minister te deel om te verseker dat, sou so ’n kommandostelsel weer op die been gebring word, dit effektief sal wees en nie net nog een van die regering se openbare betrekkinge oefeninge is soos wat ons met die onlangse ontplooiing van die sogenaamde Grensbestuursowerheid (GBO) se wagte gesien het nie,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings