|

Fraai, fraaier, Kraaifontein! Plaaslike AfriForum-tak verfraai buurtingang

Kraaifontein is nou veel fraaier nadat AfriForum se Kraaifontein-tak, as deel van die #OnsDorp-veldtog, ’n toegangspunt tot dié gebied opgeknap en endemiese plante en bome hier aangeplant het. Die sypaadjie-parkies by die Van Riebeeckweg- en Frans Conradierylaan-kruising, ’n belangrike toegangspunt tot Kraaifontein, is vir hierdie projek getakel.

Dié ingang na Kraaifontein dra baie verkeer en is talle motoriste, insluitende toeriste, se eerste kennismaking met dié gebied. Die twee sypaadjie-parkies het egter die afgelope tyd verval en was ’n seeroog in die buurt. Die tak het daarom besluit om hierdie toegangspunt, met die toestemming van Stad Kaapstad, op te knap.

Die landskapsargitekte by Blue Sands Landscaping is vir dié projek genader. Ná deeglike beplanning is besluit om bome en plante eie aan die Wes-Kaap hier te vestig. Witstinkhoutbome, verskillende soorte vygies (waaronder klipvygies) en vetplante (soos die perstapyt) is aangeplant. Hierdie spesies is ooreenkomstig met Stad Kaapstad se vergroeningsinisiatiewe gekies.

Die Kraaifontein-tak en personeel van Blue Sands Landscaping het eers die sypaadjie-parkies opgeruim en onkruid en vullis hier verwyder. Kompos is ingewerk om te verseker dat die beddings genoegsame voeding aan die nuwe plante sal verleen. AfriForum en Blue Sands Landscaping sal boonop ook die instandhouding van die parkies hanteer.

“Ons is besonder opgewonde oor hierdie projek en sien daarna uit om nog soortgelyke projekte in Kraaifontein aan te pak. Dis vir ons verrykend om deel van die oplossing te wees en dit wat aan ons toevertrou is, op te bou en te verbeter,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, wat Kraaifontein insluit.

Die instandhouding van Tennantpark (geleë tussen Bissetweg en Marlborough- en Tennantstraat) in Kraaifontein, is nóg ’n projek waarmee die Kraaifontein-tak al vir ’n geruime tyd besig is. Crous moedig die gemeenskap aan om by dié en ander soortgelyke projekte waarby die Kraaifontein-tak betrokke is, in te skakel. “Saam kán ons ’n positiewe verskil maak,” beklemtoon Crous.

Raak vandag nog betrokke by die Kraaifontein-tak. Stuur ’n e-pos na johan.crous@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings