|

Standerton-tak maak duikweg skoon

AfriForum se Standerton-tak het op 9 Junie in samewerking met Lekwa Clean Up Crew die duikweg by Pick n Pay JunXion in hierdie dorp skoongemaak.

Tydens die aksie is al die los grond wat op die pad en duikweg gelê het, opgetel en in van die nabygeleë slaggate ingegooi om tydelike verligting vir motoriste te bring. Die pad is in ’n haglike toestand met voertuie en vragmotors wat verwoed uitswaai vir die gate.

Verder is daar ook op 12 Junie aandag geskenk aan die Voetspore-monument en die gras is vir ’n laaste keer gesny met dié dat die winter aangebreek het. Daar is ook vullis opgetel en die terrein is netjies gemaak. Die terrein is ook vroeër vanjaar deur AfriForum opgeknap waartydens nuwe gruis op die voetpad ingewerk is en ’n pyp is geïnstalleer wat reënwater weg van die terrein herlei. Die reënwater het toegang tot die terrein in die somermaande beperk.

“Ons beoog om eersdaags die dorp se slaggate ook ’n hou toe te dien en ook om verdere skoonmaakprojekte in die dorp te loods. Inwoners van Standerton het hul trots verloor met die verval en ons gaan nie rus totdat hierdie trots herstel is nie,” sê Leon Enslin, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Wys jou steun vir AfriForum in Standerton: Besoek: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings