#OnsDorp-veldtog: AfriForum maak spruit skoon om veiligheid te verbeter

AfriForum se Oos-Moot-tak en -buurtwag het op Saterdag 26 Oktober 2019 die spruit op die hoek van 24ste Laan en Louis Trichardstraat as deel van dié organisasie se #OnsDorp-veldtog skoongemaak. Die tak en buurtwag het die spruit saam met die Oos-Moot-gemeenskap skoongemaak en die omgewing ontbos sodat kwaaddoeners nie langer daar kan skuil nie.

“Gemeenskapslede het ons in kennis gestel dat die spruit in ’n haglike toestand is omdat vullis daar gemors word en misdadigers daar wegkruip. Daarom het die AfriForum-tak die vullis verwyder, ’n TLB gebruik om bome en bosse te verwyder en gras gesny. Heelwat groot sleepwaens vol vullis is uiteindelik verwyder. Dit is vir AfriForum belangrik dat gemeenskappe ons van probleme soos hierdie laat weet sodat ons dit kan regstel,” sê Gideon van Deventer, voorsitter van AfriForum se Oos-Moot-tak.

Van Deventer het die gemeenskap se samewerking hoog op prys gestel. “Inwoners het vir ons koeldrank en kos gebring, en ook self ingespring om te help. Dit is wonderlik dat ons as gemeenskap kan saamstaan om ’n positiewe verskil in ons omgewing te maak.”

AfriForum doen ’n beroep op die Oos-Moot-gemeenskap om by die plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak en aan hul projekte deel te neem. E-pos oosmoottakaf@gmail.com.

Soortgelyke plasings