| | |

Dwarskersbos: Munisipale ondersoek na optrede van munisipale amptenare afgehandel

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag lede van die gemeenskap bygestaan in die munisipale ondersoek na die wangedrag van onder andere Jerome Pedro en Tertius Pool, verkeersbeamptes van die Bergrivier Munisipaliteit, en adv. Hanlie Linde, die munisipale bestuurder.

Tydens die verrigtinge het Ludwig Gericke, sy vrou, Mari Gericke, en ander lede van die gemeenskap getuienis gelewer oor voorvalle waarby verkeersbeamptes betrokke was en na bewering hul mag misbruik het. Adv. Etienne Vermaak het as voorsitter van die ondersoek opgetree, aangesien die munisipale raad hom aangestel het om die ondersoek na enige wangedrag van munisipale amptenare te behartig. Adv. Vermaak gaan die getuienis oorweeg en daarna sy bevinding en aanbeveling aan die munisipale raad stuur vir verdere optrede.

Owerhede in die gebied het tydens die inperking ’n vergunning gemaak dat Dwarskersbos-inwoners op dié deel van die strand – waar Ludwig gearresteer is – mag stap omdat hulle andersins teen ’n nasionale pad sou moes stap. Pedro het volgens Ludwig egter gesê dat hy nie met die vergunning saamstem wat kapt. Predon Ackeer, stasiebevelvoerder van die Laaiplek-polisiestasie, in hierdie verband geneem het nie.

Beide Gerickes – asook die ooggetuies Ilze en Dirk Visser – het getuig dat Pool in die voorval waarby die Gerickes betrokke was vir Mari gesê dat hy nie kan verstaan hoe mense soos hulle toegelaat word om kinders te hê nie. Sowel Pedro as Pool het ook vir Ludwig gesê dat hy nie sy tien maande oue baba (wat tydens die voorval in ’n drasak aan hom vasgegord was) moet gebruik as versagting nie. Mari het getuig dat sy aan die verkeersbeamptes probeer verduidelik het dat die gesin op pad was huis toe nadat sy en haar dogtertjie ’n paar noodsaaklikhede in die winkel gaan koop het. Sy het ook getuig dat die voorval haar kinders histeries en in trane gelaat het.

Ludwig het getuig dat adv. Linde se bevinding in die aanvanklike munisipale ondersoek, asook haar uitlatings oor die voorval, ontstellend en vernederend was. Die munisipaliteit het aanvanklik self die ondersoek teen Pedro en Pool behartig en bevind dat daar niks met hul optrede geskort het nie. Linde het ná afloop van Ludwig se inhegtenisname ook op haar privaat blog neerhalende opmerkings oor die Gerickes gemaak. Die hele voorval het volgens Ludwig veroorsaak dat hy en sy gesin vervreem is van die plek en gemeenskap waar hulle gekies het om te belê en hulle te vestig. Mari het ook getuig dat die munisipale raad nog glad nie vir haar of Ludwig gekontak het om hul weergawe van die voorval te kry nie.

Ander slagoffers van Pedro en Pool se beweerde magsmisbruik het getuig hoe hul minagtende en onprofessionele optrede dié slagoffers getraumatiseer en soos kriminele laat voel het.

“Hoewel ons die proses steun, bly ons verontrus dat daar maande verloop het sedert die munisipale bestuurder se openbare skuldigbevinding van die Gerickes. Sowel die munisipale raad as die burgemeester het ten spyte van verskeie vertoë en kommunikasie eers gereageer nadat ons tot die aangeleentheid toegetree het. Ons sal nie toelaat dat vinnige en eensydige ondersoeke beamptes kwytskeld nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die eenheid kon gister daarin slaag om die staat te oorreed om klagtes teen vyf gemeenskapslede van Dwarskersbos vir die beweerde oortreding van inperkingsregulasies te laat vaar.

Soortgelyke plasings