|

AfriForum-takke dien GOP voorstelle by Madibeng en Kgetlengrivier in

AfriForum se takke in Brits, Hartbeespoort, Mooinooi, Koster en Swartruggens het hulle voorstelle vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien by die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit en Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit.

Madibeng Plaaslike Munisipaliteit

Stephan Roos, voorsitter van AfriForum se Brits-tak sê dat die Madibeng-munisipaliteit voorsiening moet maak vir hul instandhoudings- en herstelfonds eerder as om groter salarisse te betaal aan personeel wat nie presteer nie. Volgens ’n voorstel van AfriForum se Brits-, Hartbeespoort-, en Mooinooi-takke moet die salarisse afgebring word van 28.7% na 20% en die broodnodige instandhoudings- en herstelfonds moet verhoog word na 8% toe.

“Miljoene rande van die munisipale fonds word spandeer op ongemagtigde uitgawes. Ons dring daarop aan dat die Madibeng-munisipaliteit antwoorde moet verskaf oor hierdie uitgawes. Sulke uitgawes kan nie net geduld word terwyl ons dorpe agteruitgaan en munisipale amptenare hulle sakke volstop nie,” sê Roos.

Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit

’n Vullisterrein vir Koster is een van die voorstelle wat AfriForum se Koster- en Swartruggens-takke gemaak het. Volgens Rika van Staden, voorsitter van AfriForum se Koster-tak, word daar nou net gebruik gemaak van ’n stortingsterrein wat lank reeds verby sy lewensduur is.

“Koster benodig ’n vullisterrein wat gereguleer word en daar is nog geen oplossings voorgestel of gelewer van die Kgetlengrivier-munisipaliteit se kant af nie. In ons voorstel versoek ons dit hulle fondse beskikbaar sal stel om ’n vullisterrein daar te stel wat ordentlik onderhou kan word.”

Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê dat dit noodsaaklik is vir takke om aan munisipaliteite se GOP-prosesse deel te neem en voorstelle soos hierdie in te dien. “Dit dra by tot die ontwikkeling van ons gemeenskappe. Ons het al voorheen voorstelle ingedien wat suksesvol in die geïntegreerde ontwikkelingsplanne opgeneem en later uitgevoer is. Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om deel te neem aan hierdie prosesse selfs al voel dit of dit nie gaan help nie, dit maak ’n verskil.”

Raak by jou naaste AfriForum-tak betrokke en help om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word.

Soortgelyke plasings