|

Onthou helde soos Totius vandag op Taaldag!

Op 14 Augustus 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig. Dit was die eerste amptelike poging om Afrikaans as volwaardige gebruikstaal op alle vlakke te vestig. In latere jare het die datum as Afrikaanse Taaldag begin bekendstaan.

Die GRA se doel was “Om te staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land” en hulle missie om die Bybel in Afrikaans te vertaal; die maandblad Die Afrikaanse Patriot te publiseer; en ’n Afrikaanse “Spraakkuns en Woordeboek” te skep.

Die agt stigterslede van die genootskap was Gideon Malherbe, Casparus Petrus Hoogenhout, Daniël Francois du Toit (bekend as Dokter), Daniël Francois du Toit (bekend as Oom Lokomotief), Stephanus Jacobus du Toit, August Ahrbeck, Petrus Malherbe en Stephanus George du Toit.

Op 25 September 1875, tydens hulle tweede vergadering, het die GRA sy finale beslag onder voorsitterskap van die 27-jarige predikant, S.J. du Toit, gekry.

Du Toit se seun, Jacob Daniël du Toit, is op 21 Februarie 1877 in die Paarl gebore. Hy sou later bekendstaan as Totius – een van die grootste Afrikaanse taalhelde en die man wat ’n deurslaggewende rol sou speel om die GRA se ideaal van die vertaling van die Bybel in Afrikaans, te bewaarheid.

Tien interessante feite oor Totius:

  1. In 1882 het hy saam met sy ouers uit die Paarl na Pretoria verhuis toe sy pa as superintendent van Onderwys in die ZAR aangestel is.
  2. Sy aanvanklike ideaal was om ’n myningenieur te word.
  3. Hy het sy teologiese studies in Burgersdorp onder leiding van prof. Jan Lion Cachet begin.
  4. Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, het hy as veldprediker by die Boeremagte aangesluit en op 11 Desember 1899 aan die Slag van Magersfontein deelgeneem.
  5. Sy vrou Maria was die jongste dogter van prof. Dirk Postma, stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hulle het twee dogters en vier seuns gehad.
  6. Sy eerste gedigte het hy onder die skuilnaam Jaduto gepubliseer.
  7. Hy was die eerste kanselier van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (1951-1953).
  8. As teoloog was hy veral ’n kenner op die gebied van Kerkreg en Hebreeus.
  9. Hy was die eerste ontvanger van die Hertzogprys vir Poësie, naamlik in 1916 vir die bundel Trekkersweë. Dit is ook in 1934 vir Passieblomme aan hom toegeken.
  10. Hy is op 1 Julie 1953 in Pretoria aan ’n hartaanval oorlede terwyl hy besig was met die finale afronding van die hersiene weergawe van die Bybel in Afrikaans.

Op 14 Augustus 2022 is dit gepas om aan taalhelde soos Totius hulde te bring en met dank te dink daaraan dat ons danksy hulle, die Bybel in Afrikaans kan lees.

Soortgelyke plasings