|

MAN VERVOLG VIR MOORD – PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID STAAN KLAER BY

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Sue Mennie, die dogter van die oorlede Genee Bergs, by in die strafsaak teen Bergs se man. Die beskuldigde het op 30 November 2020 in die Johannesburgse Landdroshof verskyn op vyf klagtes, naamlik vir die moord op Bergs, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente (uttering). Hy is vrygelaat op borgtog van R10 000 en die verhoor sal op 22 Januarie 2021 in die Suid-Gautengse Hooggeregshof begin.

Dit volg nadat die voorsittende beampte in die Johannesburgse Landdroshof in Augustus 2019 na afloop van ’n geregtelike doodsondersoek bevind het dat Bergs se man prima facie verantwoordelik is vir haar dood. Mennie het ook in 2016 ’n saak van bedrog teen haar stiefpa by die Parkview-polisiekantoor geopen wat moontlik kan dui op die motief vir die moord met voorbedagte rade op Bergs.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in April 2020 aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) in hierdie verband geskryf nadat ’n aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie aan die klaer kon bevestig of die bedrogklag – wat noodsaaklik is ten einde ’n ingeligte besluit te maak oor die vervolging van die beskuldigde – ook aan die DOV gestuur is nie. (Die DOV se kantoor moet die finale besluit neem oor die instelling van vervolging al dan nie.)

Die DOV het na afloop van die privaatvervolgingseenheid se skrywe bevestig dat die dossier in die bedrogsaak nooit aan hulle oorhandig is nie en het die nodige reëlings getref om die dossier van die aanklaer te bekom waarna vervolging uiteindelik ingestel is.

“AfriForum verwelkom die vervolging van Genee Bergs se man, asook die feit dat die saak vandag na die Hooggeregshof oorgeplaas is, aangesien dit blyk dat die NVG nou daadwerklike stappe doen om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet. Ons sal voortgaan om vir Sue Mennie by te staan totdat geregtigheid geskied het,” sê Natasha Venter, AfriForum se adviseur vir Privaat Vervolging.

Soortgelyke plasings