|

Ooreenkoms maak AfriForum-buurtwag nog sterker in Wes-Moot

Die samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum se Wes-Moot-tak en die veiligheidsmaatskappy Uberwachung All Secure Corp werp reeds die afgelope paar maande vrugte in dié gebied af. Hierdie tak se buurtwag het vroeër vanjaar hande met Uberwachung gevat om die Wes-Moot-gebied vir almal veiliger te maak.

Die gebied gaan gebuk onder kontakmisdade soos moord, aanranding en roof. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het nie altyd die mannekrag om al dié misdade te takel nie. Die Wes-Moot-buurtwag en Uberwachung se pogings die afgelope tyd het egter toegesien dat daar nóg meer voete op die grond is om misdadigers in hul spore te stuit.

Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, het die buurtwag en Uberwachung onlangs saamgewerk om ’n vermeende vandaal by die Suiderberg-reservoir aan te keer en nog drie te verjaag. Uberwachung het ook op verskeie geleenthede saam met die buurtwag op inbrake in die gebied gereageer.

Misdaadvoorkoming is hoog op die Wes-Moot-buurtwag se prioriteitslys, daarom ry Uberwachung ook saam met die buurtwag patrollies. Dele van die Wes-Moot wat gebuk gaan onder dwelmmisbruik word veral gepatrolleer, aangesien dit dikwels hiér is waar misdaad kop uitsteek.

“Die buurtwag en Uberwachung volg ’n geïntegreerde benadering om veiligheid in die Wes-Moot-gebied op te skerp. ’n Veilige gemeenskap is nie net een persoon se verantwoordelikheid nie, maar die hele gemeenskap s’n, daarom beloof hierdie samewerkingsooreenkoms om in die toekoms nóg suksesse op te lewer,” sê Steinberg.

Raak vandag by AfriForum se Wes-Moot-tak betrokke om ’n verskil in dié gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor die Wes-Moot-tak en sy buurtwag.

Soortgelyke plasings